Totale aantal besoeke

2015-11-03

Jongste veranderinge: 3 November 2015 - Ons kuier saam met Hendrik en Susan in Cresta








Einde September 2015: Ons gaan by Tina in Polokwane langs op pad huis toe nadat ons die Azaleafees in Magoebaskloof bygewoon het.



Nuwe bydrae - aantal bladkyke sedert onstaan

21 April 2015

Nuwe bydrae (15 Oktober 2014)

Kiewiet
hoe sou ek kon weet ...
toe ons kleintyd
in windekindvlug
die bloubliksemwolk
swewend in fantasie
en sprokie deurklief
om groot-oog en bang
agter die son en die maan
en die sterre
na die hemel te soek ?
hoe sou ek kon weet ...
toe ons grootword-drome
– in ons gedagtes geëts –
in skaduwee en streep
op blokkiespapier
in potlood sou skets?
hoe sou ek kon weet ...
toe ons met passer en pen
driehoeke en sirkels konstrueer
om die kwadrate van ons toekoms
in kragte van ewewig te karteer?
hoe sou ek kon weet ...
toe gister se wind die jare oopstoot
dat die weersiens net ’n oogknip
vir die afskeid sou wees?
tóé sou ek weet ...
toe die smart ons harte
met rou omvou
dat dit ék sal wees
wat in ’n laaste groet
jou gedenkdiens moet hou!

Nuwe bydrae (28 September 2014)

Ons neem afskeid van Kiewiet (Pienaar) – 28 September 2014
Ons het vandag van Kiewiet afskeid geneem. Die byeenkoms het in The Great Hall binne Villa Arcadia House in Parktown plaasgevind. Dit was ’n korterige byeenkoms, soos Kiewiet dit sou wou gehad het. Ek was aan die woord, toe Stefan (sy seun) en daarna ’n kort skyfievertoning oor hulle verlede.
Hier onder verskyn dit wat ek gesê het:
Priscilla, Karin, Stefan en die ander naby-familie – ek weet julle hartseer lê dieper as ons s’n, maar ons is ook emosioneel oorweldig deur die afskeid van ’n geliefde vriend.
Priscilla het gevra dat ek vir ons ’n stukkie uit die Bybel sal voorlees, en ek dink dit is gepas dat ons dit eers doen. Ek en Kiewiet het die afgelope paar jaar dikwels oor godsdiens en die Bybel gesels, en ek het gou besef dat sy kennis en ervaring daarvan dieper gelê het as dit wat ds. Theuns Botha ons in die katkisasieklas geleer het. Maar vir vandag het ek nie een van die moeilike dele in die Bybel, waaroor ons dikwels gesels het, gekies nie. Ek het die oorbekende Psalm 23 gekies, woorde wat Dawid geskryf het om sy eie gemoed tot kalmte te bring, woorde wat duisende na hom, ten spyte van persoonlike verdriet, vertroosting kon bied:
“Die HERE is my herder; niks sal my ontbreek nie.
Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.
Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.
Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.
U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.
Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.”
Gebed
Vervolgens praat ek namens enkele vriende uit die onmiddellike verlede, maar veral namens vriendskappe wat oor baie, baie jare gesmee is.
Eerstens wil ek enkele reaksies van hierdie vriende voorhou nadat hulle van hierdie tragiese gebeurtenis verneem het.
Ek begin by Nakkie, Tina (wat saam met ons in matriek was) se suster. Ek en Kiewiet het haar ongeveer vier of vyf jaar gelede ontmoet toe ons saam met Tina besig was om ons matriekreünie te reël. Ons was ’n paar keer saam met Tina by Nakkie aan huis. Nakkie is ’n Kunsonderwyseres en sy en Kiewiet het altyd onophoudelik oor die skilderkuns gesels. Hulle het soveel in gemeen gehad.
1.    Nakkie skryf:
Ek het vanoggend met groot skok van Kiewiet se dood verneem. Ek wil net graag my vreeslike leedwese en simpatie deel met julle.
Kiewiet was vir my ’n persoon met ’n heerlike humorsin, intelligente geselskap – en het almal rondom hom geïnspireer om sommer lus te wees vir die lewe. Al het ek hom nie goed geken nie, het dit tog  vir my gevoel of ek hom al jaaaaare geken het. Ek waardeer dit opreg dat  ek hom deur julle kon leer ken.
Dra asseblief aan Priscilla my innige simpatie oor (al het ek haar nog nie ontmoet nie). Baie sterkte aan jou en Elsabe wat ’n goeie mens en maat verloor het.”
2.    Josef Coetzee wat saam met ons op laerskool en hoërskool (tot matriek) was – en toe saam met Kiewiet op Kunskool – skryf: “Baie dankie Willie vir die nuus oor Kiewiet.  Dit is vir ons ’n geweldige skok; ek en Kiewiet was, soos jy seker kan onthou, boesemvriende!” 
3.    Johan Vermeulen, wat saam met ons in matriek was en saam aan al ons sportaktiwiteite deelgeneem het, skryf:
“Dit is regtig hartseer nuus wat my besonder verdrietig stem. Ek het gehoop dat ek en Kiewiet mekaar weer sou sien as ek ’n kans sou kry om Johannesburg te besoek, veral aangesien ek nie ons reünie kon bywoon nie. Ek wou so graag saam met hom ons twee se  ryloopwedervaringe herleef. Die een geleentheid na Durban (10 dae uit en tuis) en by ’n ander geleentheid na Port Elizabeth waartydens ons ook sommer die Grand Prix in Oos-Londen bygewoon het (14 dae uit en tuis). Sal jy asseblief namens my aan Priscilla en sy geliefdes ’n drukkie van simpatie en meegevoel gee?”
4.    Strelsa Fourie wat saam met ons in matriek was, skryf:
“Ek moes jou e-pos ’n paar maal oor lees, want dit wou nie tot my deurdring wat jy geskryf het nie!! Dis voorwaar die slegste nuus wat ek in ’n lang tyd gekry het. Ek kan dit nou nog nie glo nie! ’n Mens voel so klein en nietig by die aanhoor van so ’n sameloop van omstandighede. My hart gaan uit na Priscilla en hulle kinders en ook na jou, Willie, wat so ’n jarelange en geliefde vriend verloor het. Mag julle vertroosting vind in die mooi herinneringe van baie wonderlike tye saam!”
5.    Tina, ons geliefde vriendin wat saam met ons in matriek was, saam met Kiewiet in die Kunsklas was en saam met ons ons vyftigjaar-matriekreünie gereël het – en na wie toe ek en Kiewiet in Polokwane ’n paar keer gery het om haar te gaan haal of weer huis toe te neem, kon net skryf:
“Hierdie gevoel dat ek iets waardevol verloor het, wil nie weggaan nie. Ek gaan hom baie mis. Kiewiet was anders. Praat mooi oor ons vriend.”
Dit is so ironies dat toe ons verlede Dinsdag op pad Magoebaskloof toe is, via Tina in Polokwane, dit die eerste keer was dat Kiewiet nie saam was nie – en dat dit die oggend van die noodlottige ongeluk was.
6.    Hoe kan ek anders as mooi praat oor ons vriend? Hoe kan ek anders as om met haar saam te stem dat hy anders was, want hy was die soort vriend waaroor Kahlil Gibran in The Prophet gepraat het:
“Your friend is your needs answered.
He is your field which you sow with love and reap with thanksgiving.
And he is your board and your fireside.
For you come to him with your hunger, and you seek him for peace.”
Ek het die voorreg gehad om Kiewiet te geken het vandat ons ongeveer tien jaar oud was. In ons St. 2-jaar, by Juffrou De Wet, het Kiewiet by die Laeskool Hugenoot ingeskryf. Ons het langs mekaar op die tweesitplek-skoollessenaar beland – en daarvandaan het ons vriendskap gegroei. Deur al die jare tot met matriek was ons altyd in dieselfde klas en het dikwels langs mekaar gesit, soos in die Duitsklas, die Afrikaansklas en die Wetenskaplaboratorium.
Ek kan van ons laerskooldae vertel, van Kiewiet wat dikwels eerste in die klas gestaan het, sy terggees en sy lewenslustige geaardheid.
Ek kan van ons hoërskooldae vertel, hoedat ons ook in die Wetenskaplaboratorium dikwels saam slae gekry het. Ek het op die een eindpunt van die laboratoriumbanke gesit en Kiewiet langs my. Ons Wetenskaponderwyser, wat by ons as Bollies bekend gestaan het, het elke dag met die lat in die hand hersieningsvrae oor die vorige dag se les gevra. Ons het belangriker dinge gehad as om elke dag die Wetenskaples te leer – en Bollies se vrae was in elk geval strikvrae. As Bollies die vraag gevra het, het ek meestal opgestaan en onmiddellik gebuk, dieselfde met Kiewiet – en so het Bollies dan aangegaan met die roede totdat hy by Piet Maritz of Christo van Tonder gekom het wat die vrae gewoonlik kon beantwoord.
Ek onthou ook die keer in die Duitsklas, toe die onderwyser vir ’n ruk nie in die klas was nie, en iemand Kiewiet oorreed het om “Blue suede shoes” te sing. In daardie stadium het ons gedink dat hy dit beter as Elvis Presley gesing het.
Maar ek en Kiewiet het ook saam rugby gespeel en aan atletiek deelgeneem. Kiewiet was, as veelsydige sportman, ook ’n gimnas – iets wat my nie beskore was nie. Iets wat ek altyd as ware vriendskap sal onthou, is die keer toe ons op die interhuis-atletiekbyeenkoms as onder 17-atlete hooggespring het, Kiewiet vir die Impalas en ek vir die Ribbokke. Die wenner kwalifiseer outomaties om aan die interhoërbyeenkoms te gaan deelneem. Kiewiet wen toe die item. In plaas daarvan dat hy goed voel daaroor, voel hy toe so sleg dat hy sonder my medewete – namens my en deur die atletiekonderwyser – die onder 19-atleet wat vir die interhoër gekwalifiseer het, uitdaag. Die uiteinde van die saak was dat sowel Kiewiet as ek op die interhoër hooggespring het.
Ek sou nog baie staaltjies kon vertel. Ek sou kon vertel hoedat ek en Kiewiet die afgelope paar jaar ons laer- en hoërskooldae herleef het. Die interessantheid daarvan was dat ons feite dieselfde was, maar dat ons perspektiewe verskillend was. En dít het die herlewing van ons jong dae nie net ’n verrykende ervaring gemaak nie, maar ook daartoe bygedra dat ’n mens die hede beter kon kontekstualiseer.
Ek kan vertel hoedat ons paaie na matriek uiteen geloop het en ons mekaar vir baie jare nooit gesien het nie, maar die dag toe ons weer kontak gemaak het, ons nie vreemdelinge vir mekaar was nie – dat ons feitlik gesprekke kon voortsit wat jare gelede nog nie voltooi was nie.
Ek kan vertel van die afgelope paar jaar se verrykende kuiers. Dan moet ek noem dat Kiewiet so lief was vir die salmtert wat Elsabe altyd spesiaal vir hom gemaak het. En ek sal kon aangaan … en gedeelde ervarings noem wat vir ons die bron sal bly van kosbare herinneringe.
Ek gaan Kiewiet baie mis – nie net omdat ek nie meer iemand het wat ’n belangrike deel van my verlede met my gedeel het nie, en daaroor kon saamgesels nie, maar omdat hy ’n gewaardeerde vriend was, iemand – soos wat Tina gesê het – anders was, en kan ek byvoeg: besonders was, veral ook oor die baie talente wat hy gehad het en waaroor hy so beskeie was!
__________________




Onlangse bydraes

Piet van Niekerk het vir ons die onderstaande foto's van ons oud-klasmaat (wyle) Bettie gestuur. Hy skryf:
"Deurdat jy gereeld met julle matrieks skakel, hoor ek meer van wat jy doen as wat jy van ons hoor.  Ons matrieks het op 29 Oktober 'n informele byeenkoms by die Walter Sisulu botaniese tuin gehad. Ons hou dus nog steeds kontak al het ons nie 'n blog soos julle nie.  Ek heg twee foto's van my suster, Bettie, aan wat haar op 'n jonger ouderdom wys as die foto's op jou blog.  Op die een foto is sy saam met haar man, Hannes, en op die ander foto is sy saam met my vrou, Iris."

Onlangse foto's (vanaf September 2012)

'n Kleiner ontmoeting: 7 Oktober 2012














Fragmente historiese inligting oor D.F. Malan (vanaf 1949 tot 1965) sal in die volgende blog verantwoord word:


Die 1956-inligting is op 8 Mei 2012 opgedateer.



1. Agtergrond

Die lewe is ’n reis!

Het elkeen van ons nie hierdie metafoor die afgelope vyftig jaar in verskeie variasies ervaar nie — ervarings wat verknoop was en is aan plek, tyd en identiteit? Die ruimte was aanvanklik die omliggende ruimtes van Crosby, waar ons alma mater geleë was. En toe het die tyd vir die meeste van ons gestrek vanaf 1956 tot 1960. En hierdie besondere tydruimtelikheid het waarskynlik op die meeste van ons se identiteite ’n bepaalde invloed gehad — ’n invloed wat heel moontlik in sommige van ons se latere lewens beslag gekry het.

En toe breek die einde van 1960 aan!

Met die ervarings van ons hoërskooljare, die invloed van onderwysers en vriende, en dan natuurlik ons verworwe skolastiese vaardighede, het daar voor elkeen van ons ’n onbekende roete gelê. En elkeen van ons het sy/haar eie paadjie geloop, sy/haar eie vreugdes, suksesse en voorspoed ervaar — maar ook sy/haar eie hartseer, mislukkings en teenspoed.

En nou is ons hier!

Die tyd is onherroeplik verby. Die plek, soos ons dit geken het, bestaan nie meer nie. En ons — ons is elkeen meer as wat ons was, anders as wat ons was, maar in ’n sekere sin ook dieselfde as wat ons was. Dáárom is ons hier! Dáárom wil ons mekaar weer sien. Dáárom wil ons herinneringe met mekaar deel. Dáárom wil ons ou vriendskappe hernu — en nuwes stig.

Enkele fasette van hierdie verganklikheid het Tina vasgevang in die simboliek van die weersiens-skildery wat sy gemaak het. Daarin is die boom wat vasgestaan het en ons simboliese onderskraging was, nie meer dieselfde nie. Die eksakte lyne het plek gemaak vir ongenuanseerde vertakkings in verskillende rigtings — sommiges nog op een of ander manier aan die vormingswortels verbonde, ander los daarvan. Die ruimtelikheid van industrie en myn wat deel van ons jeugomgewing was, het tot onsigbaarheid vervaag. En ook die kleure het nie meer dieselfde gebly nie — net nog spatseltjies wit, verbleikte swart, en ’n aandskemering-rooi-oranje!

En sekerlik sal ons gewaarwordinge van ’n verbygegane tyd en ’n veranderde ruimte verskil. Die volgende twee kort sketsies vergestalt egter enkeles van ons se emosionele belewenis daarvan.

Naskrif vir die verlede

’n Granaat het geval en oopgebars …

Hoe groet ’n mens … as jy nooit afskeid geneem het nie?
toe die toekoms gewelf was met drome wat die heelal verswelg het –
toe verwagting en versugting die skarlaken brand in jou hart geblus het –
toe die baie paaie uitgeweb het tot by die vae einders van jou bestaan –
toe die terugkom en die weersien slegs die rooi glimming op die horison was –

… of bely jy net langs die rooi pitte van die oopgebarste granaat?

Matriekafskeid

Toe het hulle nie eens foto's van ons geneem nie!

En nou ...?

Nou is dit net vergeet se voetspore wat stofgetrap in die newels verdwyn ...
Nou is dit net koestering wat met die groot heimweë versmelt ...
Nou is dit net óns wat oorgebly het - wat teruggaan na 'n wêreld van nooit-weer-sien ...

En ons sal probeer onthou – die nabyheid en die saamwees ...
En ons sal foto's neem – foto's wat niemand eintlik meer wil sien!

Hoe het alles begin?

Aan die einde van 2007 en die begin van 2008 vind ek die name van enkele van ons klasmaats op die internet op die webladsye van NamesDatabase en SAReunited: Rudi (Laubscher), Kiewiet (Pienaar), Johan (Vermeulen), Dirk (Diederik Venter) en Trix (Beatrix Goldschagg).

Ons het met mekaar in aanraking gekom en af en toe kort briefies geskryf.

Op 16 Junie 2008 sien ek vir Kiewiet vir die eerste keer weer na baie, baie jare – en ons was vanaf standerd 2 (in Hugenoot) elke jaar tot en met matriek in dieselfde klas. Hulle het op dié dag by ons kom tee drink.

Ons het die moontlikheid van ’n reünie bespreek – nadat ek per e-pos ook al met Johan (Vermeulen) en Dirk (Diederik Venter) oor hierdie saak in verbinding was. Ons was maar redelik skepties en het besluit dat daar eers ’n behoeftebepaling gedoen moes word. Dit gedoen, het die soektog na individue begin. Menigeen het baie vindingryk meegedoen aan die soektog.

As my korttermyn-geheue my nie in die steek laat nie, het die kontakinligting min of meer soos volg ontvou:

Met Kerrie (Bekker) het ek deur die jare per geleentheid telefoniese kontak gehad. By Kerrie kon ek (Johanna) Tighy se telefoonnommer kry. Betsie (Barnard) se inligting het ek by Piet van Niekerk (wyle Bettie se broer) gekry. Na maande se soek in die Vrystaat na Ester (la Cock), kon Piet my ook help om by haar uit te kom. Chris (Christo van Tonder) het ek via sy pa se huishouding kon opspoor. Maurice (Rossouw) was lank soek. As ek reg onthou, het Dirk (Diederik) my op sy spoor gesit, ook op dié van Danie (van Vuuren) en Judith (Kotze), asook Hester (Fourie) en Isabella (Cruywagen). Anna (Vermaak) se adres het ek by Isabella gekry. Josef (Coetzee) en Charlotte (Kruger) kon ek deur Jan (Nienaber) vind (via Adri – Charlotte se suster), nadat ek hom weer deur Dennis (Coetzee) nagespoor het. Vir Dennis kon ek in die telefoongids vind – ook vir Hendrik (Botha), Erie (Pretorius), Frans (Shawe) en Boet (Haylett). Tina (van Dyk) het my op Stoffie (Booysen) se spoor gesit. Lidia (Theron) het ek deur Trix (Beatrix Goldschagg) gevind – ook so vir Elza (Smith) en Tina. Henning (Jordaan) het ek deur Johanni la Vita (Johanna van Heerden - Helena se skoolvriendin) gevind. Corrie (Nel) kon ek deur Mona (Dennis se vrou) vind. Vic (Brummer) het óns via die blog op die internet gevind.

En vir Soma (Rossouw) - wat tot standerd 8 saam met ons was - het ek via haar suster, weduwee van wyle prof. Willie Jonker, gevind.

En nou is daar nog ’n klompie soek.






Op die foto verskyn die volgende persone van links na regs:

Bo: Chris, Betsie, Dennis, Erie, Dirk, Hendrik, Jan
Middel: Vic, Johan, Rudi, Ester, Willie, Kiewiet, Tina
Onder: Kerrie, Lidia, Tighy, Josef, Charlotte

Ons kon ook die kontakinligting van ’n paar oud-onderwysers naspoor:
  • mnr. J.C. van Tonder, ons oud-skoolhoof - en Chris se pa - intussen oorlede (28 Augustus 2010);
  • Ena McLean, ons Engels-onderwyseres in standerd agt - met die medewerking van Piet van Niekerk;
  • Ossie Gerber, oud-Kunsonderwyser - deur Betsie se toedoen;
  • dr. A.H. Botha, oud-Latynonderwyser - op Betsie se versoek;
  • Pam Gouws, oud-Engelsonderwyseres, alhoewel sy nie ons ons klas gegee het nie - met die medewerking van ’n kollega;
  • Ruth Pfitzinger, oud-Huishoudkunde-onderwyseres - deur Tina;
  • Flip Kok (St. 10B-klasonderwyser);
  • Mnr (prof.) J.J.P. Beneke, oud-Aardrykskundeonderwyser.


2. Foto’s - vanmelewe

2.1. Meer formele foto's

Agter vlnr: Kerrie Bekker, Bolla Smit, Erie Pretorius, Murray Jurgens, Willie Botha, Rudie Laubscher, Christo van Tonder, Jan Nienaber
Volgende ry: Skot Buys, Maurice Rossouw, Kiewiet Pienaar, De Bruyn Louw, Pillie Gildenhuys, Gert van der Linde, Josef Coetzee, Mielies Oosthuizen, Stefaans Joubert
Volgende ry: Erin Kotze, Johanna Vogel, Bettie van Niekerk, Tina van Dyk, Betsie Barnard, Soma Rossouw, Anna van Staden, Elza Smith
Volgende ry: Lidia Theron, Magdalena Delport, ?Maria Rautenbach, mnr. J.A. Kotze, Ester la Cock, Phyllis Lee, Johanna Tighy
Voor: Kassie Swanepoel, Piet Maritz




























2.2. Minder formele foto's















Kiewiet se onderwysdae by die Kunsskool in die jare sewentig























Hier bo verskyn die reisplan en lede van die toergroep vir die Suidwes-Afrika-rugbytoer in 1958. Kort voor die toer is ek op klandestiene wyse uit die toerspan gelaat - en die oggend voor hulle sou vertrek, het Tiekie Marais en Flip Kok na ons huis gekom om te hoor of ek nie as plaasvervanger wou saamgaan nie omdat iemand onttrek het. Uiteraard was die tyd te min om daarvoor gereed te maak. Daarna - en tot vandag - het ek geen kwade gevoelens gekoester nie. Trouens, na matriek het ek nog dikwels met Tiekie te doen gehad toe ek hom met die Sielkunde-statistiek gehelp toe hy by Unisa ingeskryf was vir graadstudie.


Onder vyftien-rugbyspan (1957)

Agter: G. Botha, T. van der Walt, P. Oberholzer, W. Botha, M. Jurgens, C. Wagenaar, A. du Toit, I. van Loggerenberg
Middel: Mnr. D. Roelvert, P. Ernst, J. Vermeulen, E. Pretorius, M. Rossouw, R. Laubscher, mnr. J.C. van Tonder
Voor: F. Boshoff, H. Vermaak

















 Ons speel rugby in Zeerust (1959).

Op die foto verskyn agter: Christo van Tonder, Hennie Vermaak, Henning Jordaan, Rudi Laubscher, Piet Ernst, Ponna Botha, Erie Pretorius, Mias Nieuwoudt.
Volgende ry: Piet Peens, Koos Peens (ek verneem al drie die Peens-broers is reeds oorlede), Boet Haylett.
Volgende onreëlmatige ry: (?) Otto, Willie Botha, Hennie Lubbe, Brent Axel, Kiewiet Pienaar, (?) Basson, (?) Davel.
Volgende ry: Louis (?) Boshoff, Maurice Rossouw, Zeerust-speler, Jakkie Pretorius, Koos West, Johan Vermeulen.
Voor: (?) Schutte, Johan Grobler (?).









3. Foto’s - tussen toe en nou


In hierdie afdeling wil ons graag foto's plaas wat tussen 1960 en onlangs geneem is: familiefoto's, werkfoto's, gesinsfoto's, of wat ook al. Ons kan vier foto's vir elke persoon toelaat. Die foto's sal dan saam in een collage per persoon geplaas word.







4. Foto’s - onlangs

4.1. Kleiner voorreünie-kuierbyeenkomste


Van links: Rudi Laubscher, sy vrou Ora, Johan Vermeulen, (Johanna) Tighy, Josef Coetzee, Charlotte Coetzee (Kruger) en Suzette (Johan se vrou.)

Met groot opgewondenheid het ons op 4 Julie die tog na Hermanus aangepak om ons ou skoolmaats te ontmoet: Ons het Johanna Tighy, wat al by ons in die Paarl kom kuier het, in die Strand opgelaai om Rudi en Ora Laubscher en Johan en Suzette Vermeulen daar te ontmoet. Wat ‘n heerlike dag wat gans te kort was. Ons kon nie genoeg ons eertydse onderwysers lof toedig nie (al was sommige van hulle oneindig vreemd met snaakse gewoontes). Hul was net die beste. Uit die aard van die saak was ons uiterlik vir mekaar totale vreemdelinge, maar ons karakters nog dieselfde;. Rudi wat altyd die verstrooide een was, Tighy nog altyd die ou spontane self en Johan en Joe met hul pittige sê-goed.






4.2. Ander




5. Ons onthou ...
Kiewiet onthou:

How did it get so late so soon? It’s night before it’s afternoon. December is here before it’s June. My goodness how the time has flewn. How did it get so late so soon? Dr. Seuss.

Die tyd vlieg ontstellend gou verby en dit mag miskien ‘n illusie wees, maar ek dink hier by ons ouderdom begin dit meer spoed optel.  Dit mag ook so voorkom omdat  my brein stadiger word.  Hoe dit ook al sy, ek is net spyt dat ek so baie tyd spandeer het aan aktiwiteite wat nie my lewe verryk het nie.

Hier’s ‘n paar herinneringe uit my skooldae tesame met die “CV” waaroor Willie my so aanhoudend por.  Daar’s ongelukkig niks noemenswaardig waarmee ek kan spog nie.  Ek hoop maar dat ek iewers langs die pad ‘n goeie merk gemaak het.

Jan Hofmeyer Laerskool:    

Ek begin skool by “Jan Bom” (soos hy alom bekend was) daar tussen Brixton en Fietas (Vrededorp). ‘n Wonderlike skooltjie met toegewyde onderwysers. Ons het elke pouse bruinbroodtoebroodjies, melk en vrugte gekry. Andersins was ons maar besig met die gewone karaktervormende aktiwiteite - die meisietjies is met peashooters geteister of ons het gekyk wie die verste kon spoeg.  Die waaghalsiges het soms op pad bioskoop toe ‘n komiekboek by die Griek se kafee gegaps. Ek was eenkeer gedaag maar my poging was pateties. Ou Costa het die komiek by my gevat, dit opgerol en my teen die ore getik! Die skooltjie het net tot Std. 1 geloop en ek moes by my oupa en ouma in Crosby gaan woon om Std. 2 by Hugenoot Laerskool te begin.   

Hugenoot-ervarings:  
Ek beland in dieselfde klas as Willie. (Ons twee was elke jaar in dieselfde klas - van Std.2 af tot in matriek!) 
Ek onthou daar was ‘n seisoen vir elke speletjie soos albasters, kennetjie en topspin.  Die meisies het ‘charms’ gespeel.   Ons seuns het nie uitgesien na die rugbywedstryde teen die Langlaagte-weeshuis nie. Ek kan nie onthou of ons ooit aan die wenkant was nie maar ek was oortuig daarvan dat daardie wesies van alle frustrasie en bitterheid wat hulle mag gekoester het teenoor die samelewing,  op die rugbyveld ontlaai het. Ons het moeilik en vol pyn opgestaan na hulle plettervatte -dan het hulle jou nog uitgekyk met so ‘n grynslaggie.
In Std. 3 of 4 beskadig ek die kraakbene in beide knieë in ‘n fratsongeluk. ‘n Besering wat my latere jare op hoërskool en daarna baie kortwiek in sportaktiwiteite.
Ek het Willa Bothma op ‘n afstand bewonder. Kan jy jou Elizabeth Taylor voorstel in Std. 5?  Ek kon sweer Willa was mooier!  Wanneer sy met my  gepraat het, het ‘n denkblokkasie my getref, dan staan ek en mompel soos ‘n swaap.  Ek het haar naam mooi netjies in ons appelkoosboom uitgekerf. 
Ek en Oeloff van Rensburg was beste maats. Skoolvakansies het ek by hom op hulle kleinhoewe in Rivonia deurgebring. Dit was ‘n pragtige, boomryke gebied met grondpaaie.  By die rivier wat daar naby verby kronkel was ons in ‘n paar hewige kleilatgevegte met die plaaslike swartetjies gewikkel  Een middag het ons ‘n mak perd wat daar naby gewei het, aangekeer. Ons het daarin geslaag om altwee op sy rug te kom en hom toe bloots langs die rivier af gery totdat hy onder ‘n boom deur gedraf het en die onderste tak ons so mooi van sy rug afgeskraap het! Ons het plat op ons gatte in die modder beland. Elke oggend het ons die bosse ingevaar met ons ketties en alles wat vlieg geterroriseer.  Ons was knap kettieskutters en het selde gemis. Op ‘n keer het ons probeer om biltong te maak van ‘n bosduif.  Dit was ‘n flop maar hulle hond was bly oor die strokies verskrommelde vleis.
My kettie hang in my studeerkamer maar word deesdae ingespan om die duifies en voëltjies op my werf te beskerm (dis nou vir jou ironies).  Ek voer hulle smiddae in my tuin en klits die rondloper-katte wat dit op my erf waag! (Hoopnie die SPCA lees ons blog nie).  
D.F.Malan-brokkies:
Ek onthou die dag toe ek so ongemaklik tussen die spul meisies in die kookunssentrum gestaan het terwyl Tighy my geskeurde broek moes lap. En sy het weer tot my redding gekom tydens die 5-myl-wedloop. Die roete het verby hulle huis geloop, en toe my broek se rek lol, hardloop ek by hulle huis in. Sy het aan die werk gespring en minute later was ek terug in die wedloop. 
Josef en Johan sal onthou dat ons soms pouses in die veldjie oorkant die skool deurgebring het. Op ‘n dag het ons ‘n sak vol sprinkane gevang en hulle in die Engelse klas losgelaat.  Die verskrikte meisies het gillende tussen die banke rondgeval om hulle te ontwyk. Die middag moes ons toe by die Engelse juffer na skool bly.
Dalk onthou hulle ook hoe ons saam met Piet Maritz die debataande opgevrolik het met ons  lighartige klugte. Een van hulle was gebaseer op die skool se opvoering van “Ridders van die Swart  Woud”. Gedurende een toneel het ons besems as perde gebruik en terwyl ons houtswaarde rondswaai, het ons soos gekke op die verhoog rond galop. Ons het ook op ‘n keer as “Die Shadows” opgetree. Agter ‘n laken wat tussen die gordyne gespan was en ‘n sterk lig van agter, het Piet die kitaar geslaan terwyl ons ‘n sielvolle vertolking van “Running Bear” gelewer het. 
Tydens konserte het ons gimnastiekspan vertonings op die verhoog gelewer en gewoonlik ook ‘n “menslike piramide” gebou. Ek was die ligste en moes versigtig teen die manne opklouter tot bo waar ek met uitgestrekte arms moes “pose”. Een aand het ons die hoogte misreken en toe ek bo kom, verdwyn ek agter die boonste valgordyn tot groot vermaak van die gehoor want hulle kon net my bene sien! Daar bo tussen die balke en spinnerakke het ek toe my “pose” gedoen. 
Hierdie piramides het ons op daardie massiewe houttafels in die binneplein onder Tiekie se toesig geoefen. Tydens een oefening het die piramide in duie gestort. Arme Brent Axel (een van die ‘pilare’) lê onder ‘n klomp lywe vasgepen. “Magtag manne, julle het my in die planke vasgespyker!” het hy daar van onder af gelê en kreun.
Tydens ‘n huissportbyeenkoms was die Impalas (rooi) ver agter met punte. Die atlete het reggestaan vir die myl. Toe die skoot klap, vlieg daar ‘n atleet uit die bondel asof dit ‘n naelloop was. Sy frokkie was voor en agter beplak van die rooi rosette. Toe hy om die draai nael, sowat 50 tree voor die res, herken ons hom - dit was Christo se pa! Ons skoolhoof se gees het my nogal beïndruk.
Ek het nie krieket gespeel nie, maar toe die Duikers ‘n speler kort in hulle wedstryd teen die Ribbokke was ek ‘n kolf in die hand gestop en vinnig ‘n paar kolfwenke gegee. Ek is laaste ingestuur. Pierre van Wyk kolf toe nog steeds van nommer een af en slaan lustig onder die boulers.  Ek kan net koes en keer!  Ek waag selfs ‘n astrante lopie so nou en dan om Pierre aan die kolfkant te hou. Hy laat dit maklik lyk en ek besluit om ook een hou te probeer moker. En toe Johan weer boul, was ek reg. Ek gee so ‘n paar sprongetjies vorentoe en soos ‘n wafferse bofbalspeler laat waai ek - maar ek hoor of voel niks!  Die momentum swaai my in die rondte en toe merk ek dat een van my paaltjies weg is!
Ek het my een middag gestaan en verwonder toe Lappies, Mien en Tjor ‘n hele boks Rolo’s op die vloer tussen hulle voete by Basil se kafee uitdribbel! Ons het afgesit parkie toe en daar op die rotse gesit en ons dik gevreet aan die tjoklits. Die wat oor was, is die volgende dag by die skool onder ons maats uitgedeel. Ek dink Willie kan die episode onthou.

Post-D.F. Malan

Ek was totaal koersloos na matriek. Ek  gaan werk toe maar terwyl ek besluit wat ek met my lewe wil aanvang. My eerste salaristjek blaas ek as ‘n deposito op so ‘n goudkleurige Italiaanse motorfiets. Piet swot op Potch. Wanneer hy vakansies huis toe kom, rits ons twee op die motorfiets rond en kuier so op die lys af vir die poppies in sy swart boekie. Later het Kerrie en Goeba (Nico Niemand) by dieselfde firma kom werk en ons speel weer saam rugby. Na werk het Kerrie saam met my huis toe gery. Ek het soms ook maar windgat tussen die verkeer deurgevleg; dan moes hy daardie lang bene van hom hier teen my heupe vasknyp want sy knieë het so nou en dan ‘n modderskerm geraps.
Alhoewel my knieë begin lol het, speel ek nog klubrugby vir Munisipaliteit se onder 19’s – met sulke “heavy duty” knieskerms.  
Een aand  skraap ‘n kar my en skryf my motorfiets af - en ek bly ook amper in die slag! Ek word in die hospitaal wakker vol pypies en drups. Hulle verwyder ‘n metaalfragment uit my agterstewe, werk my toe en top my bloed op. Ek het ook kopbeserings want valhelms was nie verpligtend nie. ‘n Paar nekwerwels is verskuif en ek verlaat die hospitaal, dik gepleister in gips. 
Ek dink my paar breinselle was hergroepeer in die proses, want ek verander my fokus en besluit om verder te studeer. Onderwys was nie op my lys nie maar ek besluit dat dit miskien ‘n stabiele rigting sou wees in die wisselvallige wêreld van die kunste. Ek loop ‘n vierjaar-diplomakursus by die JHB College of Art.  Josef Coetzee en Francois de Necker begin ook daar en ons is klasmaats. Ek en Josef het na klas en ook gedurende vakansies verskeie werke aangepak om sakgeld te verdien. As  ek mooi kan onthou, was ons kelners by die hotel om die hoek, telefoniste by die Poskantoorsentrale in Jeppestraat en “assistant mechanics” by die Spoorweg se werkswinkel in Langlaagte. Ons kry later swaervoertuiglisensies en met die CNA se 3-ton-paneelwaens lewer ons Saterdae-aande laat die Sondagkoerante af by die winkels.
Ek spaar genoeg geld en koop ‘n 1953  “needs a little attention”  Ford Prefect. Daar’s egter nie geld om hom “attention” te gee nie. Ek onthou een reënerige aand by die inry moes ek en Wilmien ‘n handvol borrelgom opkou om ‘n lek in die dak daarmee te stop. Die battery was ook alewig moeg en wou nooit  ten volle laai nie. Gelukkig  het daar ‘n slinger saam met die kar gekom. Dit was nogal ‘n verleentheid by die inry. As die fliek klaar is, skakel almal hulle karre aan en begin om te ry. Dan moet ek eers voor die Fordjie gaan stelling inneem en hom aan die gang karring! Ek het die Prefekkie probeer weghou van steil opdraandes af. Hy het gewoonlik halfpad teen ‘n bult uit die stryd gewonne gegee - selfs in eerste rat! Ek moes dan in trurat daar uit! Ek was later ‘n kampioen in truratbestuur.  Ek was spyt dat ek nie die Ford tot sy eertydse glorie kon herstel nie. Hy’t potensiaal gehad en het karakter aan die strate gegee. ‘n Jaar of wat nadat ek Priscilla ontmoet het, het ek met ‘n swaar hart van hom afskeid geneem.
In my 3de jaar ontmoet ek Priscilla op ‘n partytjie. Sy en haar Engelse vriendin sit en klets en toe ek haar naam hoor, het ek geweet sy’s Engels. Ek lê toe by haar aan met my beste Engels - en sy speel saam! Maar die “Engelse dametjie” het egter die vorige jaar by DF gematrikuleer en het my geken (soos sy later gebieg het). Toe sy later instem dat ek haar mag huis toe neem, bring sy my by
en geniet haar gate uit vir my verleentheid! Ons het begin sleep en Saterdae-ande hier by middernag  het ek die CNA-trok voor hulle huis parkeer, stilletjies omgeglip na haar kamer toe en aan haar venster geklop. Met ‘n beker koffie en ‘n stukkie beskuit het ons ‘n rukkie saam gekuier tot ek weer die pad moes vat. Ons het afgehaak en ‘n huisie gekoop wat so ‘n bietjie rennovasie benodig het. Met behulp van die tuinjong verbreek en verbou ek die huis eiehandig.  Priscilla het op ‘n kol selfs kruiwa gestoot! Ek het baie geleer en ons volgende twee huise ook eiehandig verbou. Daarna was ek redelik “geskool” op hierdie gebied.  Ek begin skoolhou by ‘n laerskooltjie in die Suide op pad Vereeniging toe. ‘n Landelike omgewing met grondpaaie en ‘n gemeenskappie eenvoudige maar goeie mense. In 1970 vind die gru-botsing tussen die skoolbus en ‘n trein plaas wat landwyd betreur was. 23 leerlinge van ons skooltjie en die naburige hoërskool kom in die tragedie om.
In 1971 aanvaar ek ‘n pos by die JHB High School for Art, Ballet, Drama and Music (tans bekend as The National School for the Arts). Ek gee klas in Skilder, Ontwerp en  Grafiese Kuns. In my vrye tyd illustreer ek verhale vir die Rooi Rose en teken strokiesprente vir die Polisietydskrif SARP. Die skool se ballet- en musiekdepartemente onderneem verskeie toere en dan is ek die busbestuurder, fotograaf en sommer ook “stage hand” gedurende opvoerings. 
In die 1990’s verander die onderwysopset en ‘n groep van ons neem pakkette. Ek kry ‘n spannetjie vakmanne bymekaar en ons doen huisverbeterings en installeer kombuiskaste. Dit hou my besig vir ‘n paar jaar maar ek kon myself nie ten volle uitleef in die werk nie. Ek het my kunsklasse en die interaksie met die studente begin mis. En toe die boubedryf  op ‘n stadium begin afplat, besluit ek om terug te keer na die onderwys. Roosevelt High School wil Kuns aanbied tot matriek en stel my aan om die vak daar te vestig. 
Ses jaar later het ek afgetree maar ek rebelleer teen die ouderdom. In my kop het aftrede beteken dat jy nou ‘n “has been” was. Ek het my kwasse opgeraap, en na jare se verwaarlosing, het ek begeesterd begin om te skilder. Maar die resultate was nie bemoedigend nie. Daar was baie flops en frustasie. Die vaardigheid het verroes en dit het my laat dink aan die dom ou in die Bybel wat sy talent begrawe het. Intussen takel ek verskeie bouprojekte by ons huis en die kinders se huise. Ek doen ook ‘n bietjie houtwerk en maak ondere andere ‘n klomp skilderyrame met die hoop om, iewers in die toekoms, die ruimtes te vul!

My knieë skarnier nie meer so lekker nie en ek moes ‘n paar jaar gelede ‘n knievervanging ondergaan. Die ou beserings begin om hulle tol te eis en nuwe kwale kom ook sommer hier uit die bloute uit op jou af. Ek maak moeilik vrede met die ouderdom maar voordat  ek te veel begin bewe, wend ek pogings aan om met die verroeste talent te ‘woeker’. Intussen probeer ek maar om my verjaardae te ontduik. 

Ons dogter is rekenmeester en het 2 dogtertjies.  Die jongste is eintlik ‘n Kanadesie. Sy is daar gebore toe my dogter vir vyf jaar in Kanada gewerk het. My seun is ingenieur en hulle het vier woelwater-knapies - waaronder ‘n avontuurlustige drieling!

Die kleinkinders is ‘n heerlike ervaring en het waarde by ons lewens gevoeg.  Ons word tans ingespan as toesighouers en taxibestuurders vir al ses van hulle - na drie verskillende skole!  So, vir die huidige oomblik lyk dit of ons nog nie gereed is om op die voorstoepie te gaan sit en na die sonsondergang te kyk nie!           












Ek onthou …

Die Roxy bioskoop was gedurende die 50’s ‘n gewilde bymekaarkomplek elke Woensdag- en Saterdagmiddag. Dit was “matinee”-tyd. Voor die bioskoop het ons armsvol komieks onder mekaar verruil. Kinders onder twaalf het ‘n sikspens toegang betaal en (ek dink) grootmense  een sjieling en twee pennies. Ek het weggekom met ‘n sikspens totdat ek veertien was! Aan die einde van die advertensieflitse op die skerm het die ligte verdof - om die aanvang van die prent aan te dui.  Dan was daar ‘n oorverdowende gefluit en gegil en soms het daar ‘n paar toiletrolle deur die lug gevlieg soos “streamers”.

Die “Hiawatha”-eetplekkie in Highstraat, wat later die “Hamburger Hut” geword het (of was dit andersom?) Na ‘n kuier by die swembad het ons gewoonlik daar ‘n draai gemaak om ‘n melkskommel te geniet en die “juke box” te speel. By die fish & chips-winkel langsaan het ons op pad huis toe ‘n pakkie “fish crumbs” vir ‘n pennie gekoop (Dit was die gebraaide stukkies afvaldeeg wat bo-op die olie gedryf het en dan afgeskep is).

Ons het elke  April afgesit na die Paasskou toe in Braamfontein.  Die aantrekkingskrag was die pretpark en die gratis monsters en happies eetgoed wat die uitstallers uitgedeel het. Partykeer het ons sommer daar langs die treinspoor af deur Fietas huis toe gestap, swaar gelaai met sakke vol “free samples”.  

Die trems het in Carolinestraat afgery stad toe. My eerste rit, hier by Gr. 1 of 2 rond, was kommerwekkend. Voor elke draai het die drywer daai slinger langs hom met mening geswaai. Dan het ek die sitplek vasgegryp want ek was bevrees hy gaan die trem op die draai omvoeter. Ek het gedog daardie slinger was die stuurmeganisme!

Die Bloudam daar oorkant die spoor agter Homestead Park. Ons het af en toe daar geswem en tussen die mynhope met ons fietse gery en onverskillige toertjies uitgevoer. Daar was enkele kettiegevegte met die weeshuisinwonertjies, maar ons het gewoonlik die aftog geblaas. Daai laities was vreesaanjaend!

Die Brixton-boksklub in Carolinestraat waar oom Tarzan (van Niekerk) die boksafrigter was. Sy huis was agter die klub geleë en het die ingang na die gimnasium gedeel. Hy’t ‘n aanskoulike dogter gehad. Elke keer as sy en haar vriendinnetjies deur die gym getrippel het, was daar ‘n merkwaardige verandering in die tempo van die aktiwiteite. Die mannetjies wat in die kryt skerm, het mekaar woes begin takel. Sommige ouens het hulle springtoue vinniger probeer swaai en die slaansak is skielik meedoënloos gepeper!  Dan is die klomp meisietjies al giggelende daaruit.

Die bokstoernooi teen Vorentoe Hoërskool waar  Lappies, Mien, Barrie en ek ons skool se naam hoog gehou het.

Daar  aan die noordekant van die Mayfair-Wes rugbyveld, in die skadu van die swembad se hoë geel muur, is baie argumente uitgesorteer. Daarna het jy met ‘n bloedbek of blou-oog weer hand geskud, en die volgende dag was almal weer pels.

In 1958 het ‘n organisasie leerlinge gewerf om gedurende die Julievakansie op plase te gaan mielies oes. Onder ons klomp was Pillie, Trompie (Hennig), Filletjie (Croukamp) en ek.  Die boer het ons met sy vragmotor op die stasie kom oplaai en slaan per ongeluk ou Trompie se hand in die trok se deur vas! Trompie het die ‘bandage’ die hele vakansie gedra en nie een mielie geoes nie! Inteendeel, die boer het hom later sy trekker laat bestuur na die koöperasie toe, met die sleepwa vol mielies gelaai en ons bo-op. Ek en Pillie besluit een nag om die trekker skelmpies te gaan ry. Die skure was ver van die woonhuis af. Trompie sou die trekker vir ons twee uit die skuur bring dan sou ons beurte maak om vinnig ‘n draai te ry. Toe Trompie afklim, spring Pillie eerste op. Hy ry nie net ‘n draai nie, hy begin om vir my en Trompie soos ‘n waansinnige met die trekker in die mielieland rond te jaag!  Hy uiter sulke skrilgeluide van pure lekkerte. Toe ons motorligte in die verte gewaar, het hy tot sy sinne gekom. Trompie het haastig die trekker  parkeer en toe lê ons die rieme neer!

Die klassieke bioskope in die stad soos die  “Empire” en “His Majesty’s” (met beligte kasteel-agtige strukture aan die binnekant). In die “Colosseum” het jy onder ‘n kunsmatige hemel en sterretjies na die prent gesit en kyk.  Dit was veilig om saans in die stad te gaan fliek of sommer net “window shopping” te doen en koffie te drink. As die finansies geknyp het, kon jy ‘n “Tea Room Bioscope” besoek waar  jy ‘n gratis koppie koffie of ‘n koeldrank  gekry het, en jy kon die prent oor en oor kyk as jy wou.



Herinneringe van Pillie:

Pillie het die langafstandwedlope by al die interskoolbyeenkomste oorheers en is gekies as Victor Lodorum van die skool. Hy het nuwe Interhoër- en Interbondrekords opgestel. So terloops - volgens ‘n koerantberig op 27/2/71 (11 jaar later) is sy rekord kwansuis op die Sentraal Rand Skole-byeenkoms verbeter? Die betrokke atleet het egter die 1500 meter gehardloop – Pillie het die rekord gehou vir die myl (1609 meter!) Indien die mylwedloop vervang is met die 1500. dan moet Pillie se mylrekord mos nog staan! – of hoe?

Tydens een byeenkoms het hy vergeet om sy sakke leeg te maak voor die wedloop en met ‘n broeksak vol geld weggespring! Na die eerste rondte was hy reeds ver voor die bondel en so ver hy hardloop, maak hy sy sakke leeg. Ek’s al hier langs die baan af en tel net muntstukke op!

Een oggend slenter ons twee op pad Kunsklas toe en raak betrokke in ‘n oor-en-weer gekskeerdery met ‘n groep meisies in ‘n klaskamer. Pillie is nie links nie en gryp ‘n vuurblusser van die muur af en blaas ‘n paar skuimstrale deur die venster. Die gillende meisies het in alle rigtings  gespat!
Hy het een aand vir my kom kuier met sy broer se kar. Dit was ‘n enorme voertuig en sou nie afgesteek het langs ‘n Casspir nie. Volgens Pillie het hy die kar net “geleen” terwyl sy broer weg was. Die stuurmeganisme het ’n taamlike speling gehad en dit het konsentrasie geverg om hierdie kolos op wiele in ‘n reguit lyn te stuur. Ons is daar af in Ripley (die afdraand by die RAU-koshuise). Pille stoei met die stuurwiel en ek skop benoud vas teen die ‘dash’. Die verskrikte bestuurders van voor af lê op hulle toeters! Hoe ons in een stuk by die huis aangekom het, bly ‘n raaisel.
Dit was altyd ‘n uitdaging gewees om slaapplek te kry wanneer ons geryloop het. Somtyds in ‘n verlate gebou of hotelstoorkamer en een reënerige aand onder ‘n kerkgeboutjie wat teen ‘n heuwel op pilaartjies gebou was. By tye het die Polisie ons ook geakkommodeer deur ons in die selle te laat slaap - op komberse vol piepiereuk. By een geleentheid het ons op die strand bevriend geraak met n outjie van ‘n Christelike jeuggroep wat daar naby kampeer het. In die aand het hy ons ingesmokkel en in hulle tent laat slaap. Ons is egter ontdek en is ‘n keuse gestel: ons moet dadelik skoert of ons mag aanbly maar elke aand die skottelgoed was! Ons is ‘n paar dae later daar weg met spierwit handjies.
Hier teen die einde van ons matriekjaar was ek verbaas toe ek hoor dat Pillie geskors is! Ou Skim(mnr. Coetzee) het hom blykbaar betrap dat hy gedurende klaswisseling geloop en pyp rook het.  Pillie was ‘n “devil-may-care” ou en het partykeer impulsief opgetree, maar die insident op die stoep was ‘n grap en nie ‘n vertoning van rebelsheid of disrespek teenoor die skool nie. Sy skorsing was sinloos. Pillie moes die eindeksamen by Vorentoe Hoërskool gaan aflê het. En toe ons jaarblad verskyn, sit ons Victrix Lodorum (Charlotte Kruger) sonder haar Victor Lodorum op die foto. Ons paaie het ongelukkig na matriek uitmekaar geloop. Kerrie het my eendag vertel dat hy vir Pillie in 1972 raak geloop het en dat Pillie kort daarna aan breinkanker oorlede is.
Herinneringe van Kerrie:
Ek was geskok toe Tina my bel en meedeel dat Kerrie oorlede is. Dit het so onwerklik geklink en ek besef toe dat daar ‘n hap uit my verlede weg is. My tienerjare sou seker meer gematig verloop het as Kerrie nie in die prentjie was nie. Ons het saam rugby gespeel, gewerk, partytjie gehou, duimgegooi en vis gevang - en soms in onderonsies met die eendsterte betrokke geraak.
‘n Paar van ons wedervaringe is nog redelik helder in my geheue.  Miskien moet ek eers verduidelik hoe Kerrie aan die naam gekom het.
In Std. 6 was daar ‘n debataand in die binneplein (die saal was nog nie gebou nie). Kerrie moes ‘n praatjie oor visvang lewer. Iemand in die gehoor vra hom toe wat die beste lokaas is en Kerrie antwoord: “Kerriepap”! Vir ‘n lang tyd was daar skertsend na hom verwys as “Kerriepap”. Eers later het die “pap” weggeval. Hy het my egter die dood voor die oë gesweer  as ek hom so aan ‘n meisie voorstel. Ek moes hom “Cary” noem (soos in Cary Grant).
Hy was ‘n eksentrieke karakter en ek en Piet het dit geniet om so nou en dan met hom te skerts of ‘n streep te trek. Ek onthou die keer toe ons vlooie op hulle foxie gevang het en in sy bed losgelaat het. Die volgende middag het ons saam gekuier en musiek geluister. Kerrie het telkens op verskeie plekke aan sy lyf gekrap. Hy was uit die veld geslaan omdat ek en Piet so uit die bloute uit aan die giggel gegaan en wou heeltyd weet wat so blerrie snaaks was!
Hy was been-af op Wilmien van Niekerk en hulle het dikwels saam uitgegaan. Ons was toegewyde Elvis-fans. Ek en Piet verwerk toe ‘n paar Elvisliedjies met hulle twee as tema en ‘perform’ dit daar in sy kamer. Piet slaan die kitaar en ek gebruik Kerrie se haarborsel as ‘n mikrofoon. Ek reken Elvis sou vir ons hande geklap het.
Op ‘n stadium was hy blykbaar nie in Wilmien se goeie boekies nie. Sy wou hom nie vergesel het na die 1959-matriekafskeid toe nie. Hy was bek-af toe sy besluit het om saam met my te gaan.
Sy gunstelinglied was  “Living Doll” van Cliff Richard. Ons moes tot vervelens toe daarna luister. Een aand laat “leen” ek my oom se geel kewer en ons klomp sit af Dakota-inry toe. Kerrie wou sy draagbare platespelertjie en Cliff Richard “45 singles” saam piekel. Terwyl die karre toustaan voor die inry, speel ons plate en sing arme Cliff dood.
Voor een van ons wedstryde op ons Kaapse rugbytoer het Kerrie skelmpies ‘n bier of twee na middagete weggeslaan. Gedurende die wedstryd was daar ‘n losgemaal met Kerrie onder die bondel spelers. Skielik het die ouens opgebreek en so vieserig teruggedeins want hy het bo-oor ‘n paar bene en stewels gebraak!
Dan was daar sy struwelinge met die plaaslike eendsterte. Ek kan nie onthou wat die oorsaak van die vete was nie. Miskien moes hy ook ‘n mate van die blaam gedra het want heelwat ouens het sy bloed gesoek. Ek onthou tydens ‘n partytjie by mnr. Gerber se huis het hy en Murray Jurgens mekaar te lyf gegaan. Daar was insidente voor die Roxy en buitekant die swembad maar die besonderhede is ‘n bietjie vaag in my geheue. Ek was soms vies vir hom as hy my in hierdie skermutselinge probeer betrek het. Ek het niks persoonliks teen die ouens gehad nie. Hulle was miskien skorries, maar hulle het nie eintlik met my skoor gesoek nie.
Een middag het hulle hom en Wilmien voor die Fortuna-kafee gekonfronteer. Hy bel my van die kafee af en sê ek moet kom help, maar ek moet nie “worry” nie – daar is net drie van hulle! Ek was ‘n bietjie vererg en wou weet of hy van Wilmien verwag om die derde ou te pak! Nee, hy wou net hê dat ek een vent moet  “besig hou”, hy sien kans vir twee van hulle! Toe het ek rêrig “geworry”! Ek het ‘n ou stukkende T-shirt onder my lammie aangetrek. As dit besmeer sou raak, kon ek dit net weggooi.  Ek het afgesit kafee toe en het verwag om hulle daar op die sypaadjie te sien rol. Maar toe sit hy en Wilmien binne die kafee en die Duckies staan buite en beduie vir Kerrie om uit te kom. Die Griek het hulle in die kafee verbied. Ek was nie bereid om vir sy onthalwe in ‘n geveg betrokke te raak nie en so in die verbygaan noem ek vir die ouens dat daar ‘n meisie teenwoordig was. Hulle was min gepla – hulle het net “daai lang tjommie“ van my gesoek. Ek gaan skuif toe maar daar langs die verskrikte Wilmien in. Ons bestel melkskommels en het lank aan daardie skommels gesuig. Gelukkig het die spul moeg geraak om so rond te hang en tot ons verligting het hulle besluit om te skoert - met sulke dreigende  gebare in ons rigting.
By ‘n ander geleentheid het sake amper bloedig verloop. Ons het een aand op pad van die Roxy af die groep eendsterte teegekom en die onvermydelike argumente het weer begin. Wetende wat mag kom, stap ek ‘n entjie aan met die meisies en stel voor hulle hardloop. Hulle lê oop en ek hoor hoe klap hulle skoentjies op die teerpad! Ek draai terug om vir Kerrie daar te probeer wegkry voordat sake lelik raak. Maar toe het hulle al klaar aan hom begin stamp. Gelukkig het hy die common-sense om te besef dat ons hier kan seerkry - en hy begin hardloop - skoon verby my! Ek vlieg om maar een vent bespring my van agter. Toe ek noodgedwonge vooroor buk, tuimel hy  gelukkig oor my kop - en toe maak ek my ore plat! Ek reken ek het daardie aand vinniger gehardloop as waartoe ek eintlik in staat was. Die jafels het sommer gou tou opgegooi maar ek kon Kerrie eers so twee blokke verder inhaal toe hy begin spoed verminder het.
Hierdie herinneringe koester jy nogal hier in jou goue jare. Piet het later in Christiana gaan skoolhou waar hy tragies aan sy einde gekom het en Kerrie het op sy vrou se familieplaas in die Vryburg-distrik gaan woon. Ek het een jaar soontoe geryloop om vir hulle te gaan kuier. Sake tussen hom en die skoonfamilie het nie uitgewerk nie en Kerrie het in die Parys-omgewing gaan boer. Sy lewe het egter ‘n tragiese wending geneem. Sy vrou is oorlede en hy het ‘n ongeneeslike been- en rugkwaal ontwikkel. Hy was vir ‘n paar jaar bedlêend en was gedurig in pyn. Dit het hom mismoedig gemaak.  Hy het later by sy seun in Randfontein gaan woon en ons het mekaar gereeld geskakel. Hy het dit geniet om oor die ou dae en al ons manewales te gesels. Ek het hom aangemoedig om al hierdie wedervarings waaroor hy so lekker gepraat het, neer te skryf vir ons blog. Hy was by tye uiters neerslagtig  en ek het gehoop dit sal ook sy gedagtes so ‘n bietjie aflei van die wanhopige toestand waarin hy hom bevind het. Die dag toe ek en Willie hom gaan besoek het, het hy ons vermaak met ‘n paar stories wat ek al lankal vergeet het. Sy geheue was besonders en hy kon herinneringe oproep asof dit gister gebeur het. Hy’t ons vertel hoe Clark McKay (die bekende radiopersoonlikheid van die 60’s) ons twee eendag met sy rooi sportmotor langs die pad opgelaai het en voor die SAUK-gebou in Commissioner traat afgelaai het. Hy’t ook geskerts oor ‘n sekere “strip poker”-partytjie waar Piet ook nogal betrokke was (Ek’s jammer dat ek dit vergeet het!) Die ou “Kerrie-gees” het weer opgeflikker. Sy brein was nog skerp maar sy uitgeteerde liggaam het ‘n ander storie vertel. Die Sondagaand toe hy my bel, kon ek die wanhoop in sy stem hoor. Hy het stadig gepraat en by tye kon ek hom skaars hoor. Hy het die begeerte uitgespreek dat hy liewers wil dood gaan.  Die volgende dag is hy oorlede.

*************
Dirk reageer

Ek lees nou Kiewiet se herinneringe op jou blog van die dag toe ou Pillie tydens klaswisseling gerook het wat dan ook tot sy skorsing gelei het. Ek wou dit ook vroeër genoem het maar was onseker of dit nie dalk aanstoot sou gee nie. Aangesien die voorval nou vermeld word, wil ek dit net in perspektief stel. Pillie het daardie pyp nie gerook omdat hy ’n statement wou maak nie, dit was bloot ’n grap wat skeef geloop het.

Ek was kort agter ou Pillie terwyl ons met klaswisseling verby Mnr Flip Kok geloop het waar hy buite sy klas gestaan en pyp rook het. So met die verbygaan het ou Pillie uit ’n grap Flip Kok se pyp gevat en toe nog vir hom gesê: “Kan ek maar ’n paar trekke kry?” Flip Kok het ook nog daaroor gelag.

Toe ons verby mnr. A.L. Coetzee se klas loop waar hy juis in die deur staan, het ou Pillie weer aan die pyp gesuig en gemaak asof hy rook. Hy het toe ook die pyp na A L Coetzee gehou met “Wil meneer ’n trek hê?” Dit was die vet in die vuur!

Tot vandag toe reken ek nog ou Pillie se skorsing was ongeregverdig veral gesien in die lig van die feit dat die insident plaasgevind het slegs ’n paar maande voor die einde van ons laaste skooljaar. Ek was daardie tyd, en vandag nog, oortuig daarvan dat ou Pillie dit nie uit disrespek vir óf Flip Kok, óf A.L. Coetzee gedoen het nie.

Dit was bloot ’n grap, aangespoor deur die gevoel van opgewondenheid oor die naderende era van “volwassenheid” ná ’n skoolloopbaan van 12 jaar. Het die meeste van ons dit nie ook ondervind en dinge laat doen wat ons andersins nooit sou doen nie?

Dirk

Willie

Onthou julle ...

dat Chris se pa - wat nou ses-en-negentig jaar oud is - vir ons Wiskunde in St. 6 gegee het;

die dag toe Pilly uit die bloute die landloopwedloop gewen het wat die begin was van 'n baie kort - maar sekerlik ook roemryke - atletiekloopbaan;

dat van ons seuns - ek dink dit was in St. 9 of 10 - in die Wetenskapklas skerpioene in die meisies se passerblikkies geplaas het, en 'n ander keer water, en dat Bollies ons almal deurgeloop het omdat ons nie wou te kenne gee wie dit was nie;

dat ons kadetkompanie somtyds, met die kadetorkes vooraan, deur die strate van Crosby gemarsjeer het;

dat ons in die junior jare in 'n soort tuinbouperiode na skool gras moes plant;

Van Johnson (mnr. Kotze) wat vir ons Engels gegee het in St. 7 (my pad het later jare weer met syne gekruis)?

die keer toe André du Toit op pad vanaf Zeerust (waar ons rugby gespeel het) saam met 'n paar ander in die nag langs die trein gehardloop het toe dit baie stadig gery het - en uiteindelik die trein nie weer gehaal het nie, en die konsternasie daarna met Tiekie Marais.

Willie

Chris
 
Chris reageer:
 
My Pa het vanjaar op 12 Augustus 97 geword (wat is 'n jaar nou op amper 'n honderd?)
 
Van Johnson was ook bekend as “Popeye the Sailor Man”. Rum? sonder die raisins.
 
Chris

Johan
 
Johan reageer:
 
Ons het nie net na skool gras geplant nie maar ook die grondwalle by die korfbalbane langs die twee tennisbane met Spoorweg-"sleepers" gepak en voorberei om 'n paviljoen te vorm. Waar kry mens vandag so-iets?
 
Die heining van die skool langs Foylelaan was 'n heining wat 'n sekere tyd van die jaar met rooi bessies oortrek was. Na skool smiddae het ons hande vol bessies verorber, beslis gehelp om ons eetlus te temper.
 
Johan onthou:
 
By huissport-atletiek aan die begin van elke jaar (was dit Koedoes vs. Ribbokke en nog?) is 'n sak vol spykerskoene by die wegspringplekke neergesit. As jy nie wil kaalvoet hardloop nie, kies jy 'n paar wat jou pas, hardloop jou resies en gaan sit hulle terug in die streepsak vir die volgende ou wat met spykerskoene wil hardloop.
 
Johan

(Johanna) Tighy
 
Tighy reageer en onthou
 
Aai Willem
 
Die blog het so baie dinge van my skooldae laat onthou.
 
Johan praat die waarheid – ons het regtig daardie hele rugbyveld in sogenoemde sportperiodes gebou. Anders die papiere opgetel – dink dit was die meisies se werk. Kan julle nog Juffrou Troskie onthou wat ons gedonder het oor die Latynse verbuigings, etc.
 

Bets het altyd die bekende “We who are to die, greet you Emperor” gesê voordat ons klas toe gegaan het. Dit was deur die gladiators geroep voordat hulle gaan veg het.
 
En Tiekie (Marais) en die ou Biologie-klas?
 
Boloog het ons ’n coke belowe as ons ’n fisikaprobleem kon oplos – dit was die grootste uitdaging, want cokes was baie skaars toe ons jonk was.
 
Tiekie het die seuns geslaan as die meisies nie goed kon onthou nie – so ons girls het maat geleer so dat julle kon vryspring.
 
Wat van Oscar Gerber – ’n baie eksentrieke kunsonderwyser met ongelooflike talent.
 
Ek kan onthou hoe ons meisies koeksisters moes bak onder mev. Sönghe en dan vir julle uitgesmokkel het.
 
Julle ouens het ook ons tragiese resultate van die Kookkuns verorber.
 
Kiewiet het een slag sy broek geskeur, toe het ek ingeglip in die Huishoudkundeklas en vir hom reggemaak – wonder of hy dit kan onthou?
 
Vrek – ons was so bang vir Jan Nel. Daar was gerugte dat die Onderwysdepartement hom verbied het om kinders te slaan – met so ’n reputasie sou geen onderwyser ooit dissiplineprobleme gehad het nie. Ek het julle ouens wat Boekhou geneem het bewonder dat julle “the wrath” van mnr. Swart weerstaan het.
 

Nou in terugblik het ons eintlik wonderlike onderwysers gehad. Juffrou McLean was fantasties, die arme mens wat ons klomp moes Engels leer. Shakespeare en Macbeth en juf. Mentz – die goed wat ons uit die koppe moes leer – al wat ek nog kan onthou, was: “What you egg!”
 
En die Wiskunde – hulle kon maar vir Christo daar gelos het – hy het eindelik vir ons Wiskunde geleer. Ek het op my gatvelle Wiskunde deurgekom.
 
Op ’n stadium was dit groot sport onder ons om mekaar se boeke deurmekaar te maak in die tasse en dan net vir sport ’n klip of twee by te sit sodat jy dit doodonskuldig na die volgende klas toe dra.
 
Mnr. Knoetze – wat ’n wonderlike mens met ’n been wat af was as gevolg van die bomontploffing.
 
As mnr. Van Tonder in die quad gestaan het terwyl ons klasse verwissel het, was dit die stilste klasverwissling.
 
Dan atletiek-interhoër in Krugersdorp – flou geskreeu vir Pillie, Erie, Rudie en Johan. Moet nie vir Charlotte vergeet nie.
 
Dan die rugby – onthou jy nog toe ouens van die Kaap by ons getoer het?
 
Dit was sulke eenvoudige en lekker dae.

Groete.

Johanna

Willie

Willie reageer:

Ek onthou die Interhuis-huisport. Aan die begin van St. 6 is elkeen van ons in een van vier huise gedeel: Ribbokke, kleur: ligblou – onderwyser-organiseerder: J.P Coetzee; Duikers, kleur: geel – onderwyser-organiseerder: Fanie Nel; Koedoes, kleur: groen – onderwyser-organiseerder: J.C. Swanepoel (Chonky); Impalas, kleur: rooi – onderwyser-organiseerder: Chris Meyer. As ek reg onthou was ek, Johan en Christo Ribbokke, Kiewiet was ’n Duiker, Rudie was ’n Koedoe – en die ander kan ek nie mooi onthou nie. Dan moes ons tydens Interhuis elkeen ’n roset van die kleur van die huis dra.

Willie

Dirk

Dirk onthou:

Ek was in Crosby Laerskool, wat aan D.F. Malan gegrens het, en onthou nog die dag toe die bom by die hoërskool ontplof het. My suster was toe in D.F. Malan en ek sal nooit die angstige oomblikke vergeet toe ons van die ontploffing verneem het nie.

Ek wonder hoeveel van ons onthou nog die dag, ek dink ons was toe nog maar in standerd 6, toe Christo se pa die hele skool na skool gehou het om papiere op te tel en toe ons daarmee klaar was, hy ons in die binneplein laat bymekaar kom het om onder andere Sarie Marais en Die Stem te sing voordat ons huis toe is.

Of die skerpioene wat ons tydens speeltyd in die veldjie oorkant die skool onder die klippe uitgehaal het, en hulle dan saam met ’n bobbejaanspinnekop(?) in ’n politoerblik geskud het net om te sien wie die geveg wat daarop volg, sou wen.

Dan was daar natuurlik “Tannie Gwar” (mev. Van Zyl) se geel Goggomobielkarretjie wat telkens sy parkeerplek verruil het met ’n plekkie so mooi tussen die twee rugbypale! Wonder wat sal vandag gebeur as so iets plaasvind? Sekerlik ’n saak van kwaadwillige saakbeskadiging!

Ek was ook maar klein gebou (het eers na matriek werklik gegroei) en dan was dit altyd 'n gesukkel om 'n kadetbroek te kry wat behoorlik pas! Myne was altyd 'n “size” of wat te groot!


Standerd 8 was ’n jaar wat ek liefs wil vergeet. Dennis Coetzee en Johan Vermeulen sal seker onthou dat ons na die E-klas verskuif is omdat daar te veel kinders in die A-klas was. Wat 'n jaar! Mev. Van der Walt (ou Stiefma) het vir ons Wetenskap gegee en wat alles in daardie laboratorium gebeur het, kan mens nie hier plaas nie! Eienaardig genoeg, ek het baie met haar te doen gekry na matriek. Sy is ’n tante van my vrou, Petro van der Walt, en Petro het by haar geloseer toe ek vir haar gaan kuier het. Daar het ek uitgevind dat mev. Van der Walt die eerste vrou was wat ’n graad op die destydse PU vir CHO ontvang het.

Johanna, jy bewonder ons wat Boekhou by mnr. Swart (ou Pan) geneem het, maar vir my was hy die modelonderwyser – hy was opreg in sy doel om van ons eerbare en toegewyde volwassenes te maak. Hy het altyd sy klas met 'n “sedeles’-grappie begin en ons ook altyd bewus gemaak van die probleme wat vir ons sou voorlê in die toekoms (met verwysing na ’n swart regering) indien ons nie die nodige voorsorg tref deur onsself te bekwaam op akademiese gebied nie. Noudat ons kan terugkyk, sien ons hoe reg hy was met sy waarskuwings! Sal ek ooit die wit bordkrytmerke op sy swart broek se knieë (en in my boekhouboeke) vergeet? Ek wonder of jy hom nie verwar met mnr. Meyer nie. Hy was maar omgekrap. Onthou nog die dag toe hy ’n standerdnege-seun oor die balkon op die tweede vloer wou gooi terwyl ons Afrikaans by mnr. Nel gehad het en dat hy toe vir mnr. Meyer gaan keer het.

Johanna, daardie Wiskundeklas van Christo van Tonder sal ek ook nie maklik vergeet nie. Ek het halfpad deur die jaar besluit om maar liewer op my eie aan te gaan en het toe ’n vorige paar jare se vraestelle van die Departement van Onderwys bekom wat ek tydens Wiskundeperiodes agter in die klas gesit en deurwerk het. My taktiek het egter vrugte afgewerp want ek het ’n slaagpunt in die eindeksamen behaal.

Dirk

Hendrik

Hendrik onthou:

Kan goed onthou hoe akkuraat ou Nic Swart (ek verbeel my sy bynaam was Ou Pan), die boekhou onnie met u stuk bordkryt kon gooi as die manne dalk sou oortree het in sy klas. Hy het ook so ʼn huppel in sy stap gehad en die regter broekspyp was telkens wit van die kryt want hy’t die gewoonte gehad om af te buig en sy regterknieg te raak as hy stap.

Hendrik

Tighy

Tighy skryf:

Hallo Willie

Dit is nie net julle wat kuier voor die tyd nie - ek het vir Joe en Charlotte gaan kuier in die Paarl. Ons is van plan om so ’n wegbreek-naweek Franskraal toe te gaan iewers in Junie - ek moet net nog die reëlings tref. Dan vra ons sommer vir Rudi om van Napier deur te kom - dan is dit nie so ver vir hulle nie.

Sal jou op hoogte hou.

Hoe kan 'n mens Esther van Heerden vergeet? Sy was altyd my held - het hekkies soos min gehardloop.

Hoop dit gaan goed met al die ander ouens - die Bulle moet net Saterdag wen!

Baie mooi groete van vyftig jaar terug.

Tighy

Tina

Tina skryf:

Ai, as mens al hierdie nonsens weer lees is dit g’n wonder dat die onnies se geduld soms handuit geruk het nie! As ek nou terugdink, weet ek ons het die BESTE onderwysers gehad.


Willie, jy moet maar spoeg en plak (soos ons gesê het toentertyd). Ek stuur die twee los bladsye saam. As jou oë dit nog kan hou of as jy kans sien vir die ontsyfering van amper vyftig jaar gelede – die een is in matriek geskryf en die ander een dan seker ook. Daar waar ons skryf oor die rokke en wie gevra gaan word. Ek weet nie waar ons kans gekry het om skoolwerk te doen nie – g’n mens kan konsentreer as daar so ’n geskrywery is nie; soms by die huis en soms in die klas!! G’n wonder my uitslae was soos dit was nie.

Die laaaste stuk het ek in potlood geskryf – weet nie wanneer nie. Dink dit was ook in matriek met die jaarlikse “sangfees”; toe was dit nog nie Eistedfod nie – dit was in die Johannesburgse stadsaal gehou. Dit was seker pouse of iets maar ons was veronderstel om stil te wees agter die skerms. Sulke aanmekaarstoele het daar gestaan, naby die kant van die verhoog, en daarop het ons toegesak en amper omgeval. Dan sou ons met stoele en al oor die verhoog getuimel het na benede en ’n been of arm of nek gebreek het.

Toe alles klaar was, het ons vier vanaf die stadsaal huis toe gestap – tienuur (22:00) se kant. Bid jou aan! Geen selfone of ouers wat ons kom haal nie. So het ons elke jaar Randse Skou toe gegaan – deur Vrededorp en die begraafplaas en laatmiddag weer terug huis toe met sakke vol rommel – alles gratis en verniet, veral die eetgoed wat destyds by elke stalletjie was om te proe.

Verder het ons een maal ’n termyn by Elza se huis ’n “fancy dress”-partytjie gehou. Geen ouer naby nie! Behalwe as Elsa se pa vir ons die tent in die agterplaas opgeslaan het. Dan het ons daar oornag en skaars geslaap. Dis daar waar Henning en Jannie in die prentjie gekom het. Hulle het glo in die donker op die muur gesit en ons afgeluister. Dis nou wat Elza gesê het – weet nie of dit waar was nie.

Snaaks dat ons nie aan sport deelgeneem het nie. Ek weet net ou Tiekie het my een keer op die atletiekbaan laat aflos hardloop. Dit was bedroewend! Later jare het ek maklik vyf kilometer elke middag gedraf, behalwe Sondae. Ek en die buurvrou het kos op die stoof gehad; dus moes ons wikkel. Die tyd was net so 35 minute. Dit het jare so aangehou tot hulle getrek het – toe het ek alleen gedraf. Nou is ek te bang vir al die onheile. O ja, nou stap ek net.


Van die klasse in die algemeen onthou ek net die aangename dele. Daar was maar min dae dat ek nié uitgesien het om skool toe te gaan nie – veral die Kunsklas was al waarvoor ek bestaan (geleef) het. Dankie tog vir ’n onnie soos Oswald Gerber. Moet sê ou Nel se peries was ook hoogtepunte! Hy het my lief gemaak vir prosa en ’n mens se universiteitsdae was maar net ’n voortsetting daarvan.

Ek onthou ook die rampklas, naamlik Wetenskap. Arme ou Bollie. Hy het mý eendag toegevoeg: “As Tina van Dyk Wetenskap kan slaag, kan énigeen dit deurkom.” Verbeel jou! Weet ook nie hoe ek dit deurgeskraap het nie. Ou Varkie was ook ’n dierbare mens. Dis aan hom te danke dat ek later al die Duitse drinkliedjies uit my kop geken het en jolig kon saamsing met die sing-songs. Mev. Söhnge het, dankie tog, met haar kore en afrigting my liefde vir Bach, Beethoven, Mozart, Vivaldi, ens., ens. vasgelê. Tot vandag toe skilder ek (dit was nou taamlik lanklaas!) met klassieke musiek.

Ek het drie-en-veertig jaar lank skoolgehou: vanaf graad een – genadiglik net vir een termyn – tot standerd tien by Tom Naudé Hoër Tegnies. Daar het ek, genadiglik, die matriekseuns tydens LO-periodes in die somer laat swem. Gelukkig net vir een termyn. Matriekseuns is beslis nie bang vir ’n jonge juffrou wat niks van LO af weet nie. Ek was menigmaal papnat soos hulle “bomme” gemaak het deur naby my in die water te spring. Want: ’n onnie mag daardie dae nie gesit het nie – moes toesig hou dat hulle mekaar nie vermoor en versuip nie (askies vir die plat woord, maar daar is niks anders wat beter beskrywend as dit is nie). Tog het elke kind diep in ’n mens se hart kom kruip. Later jare was ek betrokke by ’n swart onderwyskollege buite die dorp en daar het ek Arts and Crafts en hoe om onderwyshulpmiddele te maak, gegee; dit wil sê modelle bou, mosaïek, drukwerk, maskers, kaartwerk, ens. Geen naskoolse aktiwiteite nie. Dit was ’n fees! Daar het ek afgetree. Ek kan boeke skryf oor skoolhou, maar ek weet ’n klomp van ons het voor in die klaskamers beland.

Die enigste plek waar ek my moses teëgekom het, was in die Spesiale Skool in Pietersburg waar kinders met gebroke geeste uit ramp-huwelike gekom het; ook outistiese kinders – noem maar op. Daarvoor het ek ’n diploma van twee jaar vir spesiale onderwys geloop, maar ek kon naderhand net nie meer kinders met grootmens-liggame en die breinvermoë van ’n driejarige hanteer nie! Dit het my gebreek. Vyf jaar was te lank. Die meeste van die personeel het ook daar siek geword en padgegee. Dis nou Betsie se gebied daardie. Sy is opgelei daarvoor.


Toe ek ’n heerlike paar weke by Willie en Elsabe deurgebring het en gesit en luister het na Kiewiet en Dennis en ook Kerrie se vertel van die “ducktails” – hoe Kiewiet-hulle saam met die meisies weggehardloop het as die “ducktails” wou baklei daar naby die Roxy – het ek weer verlang na al die ongekompliseerdheid van my jong dae. Dit was so lekker om al die ou maats weer te sien, ook vir Hendrik, Jannie en Vic.

Nou is ek ’n regte, egte afgetredene wat die hele wêreld deurkruis – wat ’n lekkerte! Ek bly hier op Zimbabwe se voorstoep, maar dis pragtige bosveld en lekker weer.

Tot ons mekaar weer sien op 23 Oktober 2010. Lekker bly!

Tina

Willie

Willie onthou:

Tighy noem tannie Mentz wat vir ons in in standerd 9 en 10 Engels gegee het. Van haar onthou ek dat sy vir sewe kwartale vir my presies dieselfde punt vir Engels gegee het – maar miskien was dit net dat ek so bestendig was. Gelukkig het ek in die matriek-eindeksamen een simbool hoër gekry as waaraan ek vir sewe kwartale gewoond was.

Maar ek onthou goed dat Madame Curie vir my tog ’n belewenis was onder haar leiding – en dan natuurlik Macbeth! Ek onthou selfs nog van die aanhalings uit Macbeth:

When shall we three meet again / In thunder, lightning, or in rain? / When the hurlyburly’s done, / When the battle’s lost and won. / That will be ere the set of sun. / Where the place? / Upon the heath. / There to meet with Macbeth. / … / Fair is foul, and foul is fair: / Hover through the fog and filthy air.

En dan:

Is this a dagger which I see before me, / The handle toward my hand? Come, let me clutch thee;

Maar miskien onthou julle ook die mooi gedigte wat ons in standerd sewe by Van Johnson geleer het:

Half a league, half a league, / Half a league onward, / All in the valley of Death / Rode the six hundred. / ‘Forward, the Light Brigade! / Charge for the guns!’ he said; / Into the valley of Death / Rode the six hundred.

En die pragtige Beau Brocade:

But the Beau drew nearer, and would not speak, / For he saw by the moonlight a rosy cheek; / And a spavined mare, with a rusty hide; / And a girl with her hand at her pocket-side. / So never a word he spake as yet, / For he thought ‘twas a freak of Meg or Bet – / A freak of the “Rose” or the “Rummer” set. / Out spoke Dolly the Chambermaid / (Tremelous now, and sore afraid) / “Stand and deliver, O ‘Beau Brocade’!” / Firing then out of sheer alarm, / Hit the Beau in the bridle-arm. / Button the first went none knows where, / But it carried away his solitaire; / Button the second a circuit made, / Glanced in under his shoulder-blade - / Down from the saddle fell “Beau Brocade”! / Down from the saddle and never stirred! – / Dolly grew white as a Windsor curd. / Slipped not less from the mare and bound / Strips of her kirtle about his wound.

Alhoewel ek die grootste gedeelte van die gedig nog ken, het ek dit hier uit my ou Anthology neergeskryf.

En Tina praat van Fanie Nel se letterkundeklasse. Dit was vir my ook ’n belewenis, in so ’n mate dat ek en Rommie van Biljon en Dolf Venter (albei het in 1961 gematrikuleer, Rommie as onderhoofseun) soggens en smiddae wanneer ons saam skool toe en huis toe gestap het, baie dikwels oor die letterkunde gesels het.

Julle onthou seker ook dat ons gedigte moes leer en kon “opsê” by Fanie Nel (Was dit in standerd agt?). Maar Kiewiet het Na die front deur Ernst van Heerden so mooi voorgedra:

Toe ek die laaste môre brood kom eet, / kon ek my hartseer aan jou liewe hande meet; / toe ek my rantsoen pak, komberse rol, / was my gedagtes van jou oë vol; / toe ek vir oulaas staar, die deur toestoot, / toe spieël my hart hom in jou hart se nood; / toe ek die straat uitgaan en nie weer kyk, / het jou sagte hare oor my wang gestryk; / toe ek die trein inklim, met wrange lippe groet, / was jou mond ’n siddering, jou kus ’n vloed … / Toe ek die sneller en die blink loop vas omklem, / kon ek van jou g’n enkele trek herken.

En miskien moet ons ook ’n bietjie gesels oor ons herinneringe van die ander klasse. Ek dink daar is seker ’n paar staaltjies uit die Duits-klas? En die Aardrykskunde-klas, waar ons slegs vyf leerlinge was (as ek reg onthou): Christo, Betsie, Bettie, Hennie (Vermaak), Jan (Nienaber) – dink ek – , en ek.

Willie

Willie deel twee stukkies korrespondensie wat hy met Christo gehad het oor hulle gemeenskaplike ervarings in 1959 toe hulle in Tzaneen gaan rugby speel het:

Hallo Chris

Ek sit hier en werk aan ’n Bybelvertaling waarby ek as taalkundige adviseur by betrokke is, toe dink ek skielik weer terug aan ons standerd 9-jaar en ek wonder toe of jy nog ons rugby-uitstappie na Tzaneen onthou?

As ek reg onthou, het ons nog die trein op Langlaagtestasie gehaal, op pad na Johannesburgstasie, waarvandaan ons na Tzaneen sou vertrek. Ek onthou ook dat ons om een of ander rede op Johannesburgstasie van die trein afgespring het toe hy nog nie heeltemal stilgestaan het nie - en dat ’n polisieman ons toe baie ernstig aangespreek het.

In Tzaneen aangekom, het ek en jy en Maurice by die Van Dyks op Politsi tuisgegaan. Frans van Dyk, wat vir hulle eerstespan gespeel het, was ons gasheer. Maar hy het ook twee jonger sussies gehad: Bettie en ’n baie jonger een wat nog op laerskool was. Bettie was in standerd sewe en sy het ’n paar keer vir ons etes voorberei omdat haar ma uithuisig was met vroueverenigingvergaderings wat sy moes bywoon. Hulle pa was stasiemeester aldaar.

Ek onthou ook dat daar die aand voor ons wedstryde - óf die aand van die wedstryde - ’n volkspelesamekoms was waar ons ook by was. Daar het ek toe ook my naamgenoot in Merensky ontmoet - ook ’n Willem Botha. Ek het nog my skoollapelwapentjie aan hom verruil vir syne - ’n wapentjie wat ek vandag nog het.

Ek onthou ook dat die aand toe ons vir ons trein wag om terug te gaan Johannesburg toe - was dit op Mooketsi-stasie? - André du Toit en ’n ene Otto op die perron aan die stoei gegaan het op die gruisklippe. André se hemp was so gehawend en stukkend dat hy dit in die trein gewas het en by die venster uitgehang het om droog te word. As ek reg onthou, het dit toe uit sy hand gewaai - of iemand het gehelp dat dit uit sy hande waai.

Ek het nog so ’n paar jaar daarna met Bettie gekorrespondeer. Hulle is toe later Keetmanshoop toe. Ek dink sy het uiteindelik in Heidelberg gematrikuleer, maar toe het ek reeds kontak met haar verloor.

Haar broer, Frans, het as skoolhoof by Hoërskool Monument afgetree. Ek het net voor sy aftrede met hom gepraat. Hy het toe gesê dat Bettie met ’n ingenieur getroud is en dat hulle in Oeganda woon en werk.

Miskien onthou jy ook enkele fragmente van hierdie belewenisse van ons.

Groete.

Willie

Christo antwoord:

Willie,

Kort gelede terug by die huis na 'n dag of wat by my dogter in Centurion wat oor sowat 10 dae by haar boet in Houston, Tx gaan kuier.

Besig om e-pos deur te gaan en wou net gou reageer:

Dis baie duidelik dat jou emosionele intelligensie baie sterker ontwikkel is as myne! Hulle sê mos die dinge wat mens onthou is dié wat jy emosioneel ervaar.

Van die insidente waarna jy verwys onthou ek baie min, dus kan ek nie eintlik nou kommentaar lewer of 'n bydrae maak nie. Wat ek wel onthou is dat ek Bettie van Dyk op een of ander manier kon oortuig om haar lapelwapentjie aan my af te staan. Ek behoort dit nog êrens te hê, weet net nie waar nie - te veel rommel in my huis, 30 jaar laas getrek!.

Doen asseblief so voort en laat hoor van jou rondom gebeurtenisse waarby ek ook betrokke was - ek waardeer dit regtig. Een of ander tyd sal ek hopenlik bykom, al neem dit ook lank.

Wat ek veral van die nuwe blog geniet het is dat van die vertellings my herinner het aan verskeie insidente waaraan ek verseker nooit weer sou gedink het as dit nie was dat my herinneringe op die manier geprikkel was nie. Interessant ook hoe die wat dit beskryf die gebeurtenisse anders ervaar het as ek self. (Los skryf - vas skryf : die reëls soos ek dit onthou hou ek nie van nie!)

Groete, en mooi bly.

Chris

Willie skryf weer:

Dag Chris

As ’n mens se gedagtes eers loskom, dan kom dit los.

Ons Tzaneen-uitstappie het my nou ook laat dink aan die swart Panhard wat die Van Dyks gehad het - en hoe ’n (in my oë) roekelose bestuurder Frans eintlik was. Ek het destyds die idee gekry dat hy alles volspoed gedoen het. Indien ek reg onthou, het ons voor ons wedstryd die middag eers ’n redelike groot middagete by die Van Dyks moes nuttig. Ek kan onthou dat ek redelik stadig geëet het, en toe almal reeds klaar was, ek nog nie halfpad was nie. Ek kan nie onthou of ek toe ooit met my bord kos klaargemaak het nie.


En as ek verder reg onthou, het ek en jy op pad na die rugbyveld agter in die motor gesit - met Bettie tussen ons twee. Maurice het voor by Frans gesit. Ek onthou ook dat wanneer Frans die draaie so skerp ingegaan het, ek en jy afwisselend (afhangend van die aard van die draai) die krag van die draai (is dit middelpuntvliedend? - jy sal beter weet as ek) moes weerstaan. Wie van ons twee ook al per geleentheid die kragonderspit moes afbyt, Bettie het dit van alkante ervaar. Die ander aand vertel ek dit vir Tina. Sy het so lekker gelag - maar ook bygevoeg: Bettie moes dit baie geniet het!

Ek wonder of ek hierdie ervaringe van ons nie op die blog moet sit nie?

Groete.

Willie

Christo antwoord:

Dankie Willie, doe so voort!

Jy kan seker maar blog-toe hiermee. Ons was mos onskuldig - of hoe?




















In wyle Piet se handskrif geskryf (1959)

Die eensaamheid en die pyn …


Sy het net gesê: “Kerrie is dood.”

En op hierdie skielike donker oomblik val daar ’n ligstraal op mý herinnering van jou lewe …

En ek sien die lang seun in die ander standerdvyf-klas as ek – net maar een van ’n klompie seuns wat ek nie eintlik geken het nie.

En ek onthou dat ons daarna vanaf standerd ses tot matriek in dieselfde klas was …

En ek onthou hoedat jy in standerd sewe tydens ’n mondeling-periode vertel het hoe ’n geesdriftige hengelaar jy was … en toe iemand jou vra watter soort aas jy gebruik, jy gesê het dat kerriepap die beste aas is. En toe was jy Kerrie – ten spyte van jou noemnaam, Adriaan, wat die onderwysers gebruik het, en jou tweede naam Paul, wat jy self verkies het.

En ek onthou dat ons saam rugby gespeel het en dat jy ’n kadetoffisier was – en nie veel meer nie, omdat ons op hoërskool meer kennisse as vriende was …

En ek onthou dat ons na ons skooljare mekaar ’n paar keer raakgeloop het, maar nooit gekuier het nie … maar dat jy in die laaste jare my tog van tyd tot gebel het toe jy nog in die Vrystaat geboer het.

En dan val die lig skerper op die afgelope jaar ... en ons eerste weersiens na baie jare!

Ek het vir jou lugtyd en iets te ete gebring. Ek moes sukkel om by die woonstelkompleks in te kom omdat jy my nie by die hek kon ontvang of die afstandbeheerder kon gebruik nie, want jy het in die bed gelê.

En ek onthou my gemoedsaandoening toe ek jou sien – nie meer die fors en sterk liggaam nie, maar die hande het nog steeds groot en kragtig gelyk. En jy het verskoning gevra vir jou omstandighede en die rook – want jy het geweet ek het nooit gerook nie.

En ek móés die rook vir ’n uur of twee verduur want jy wóú vertel … en ek het geluister! En ek hét geluister … af en toe ’n dokument of ’n foto vir die vertelling uit ’n nabygeleë tas vir jou gehaal.

En jy het van jou seuns vertel – maar veral van jou vrou. En jy het gesê dat jy baie lief was vir haar … en dat sy baie mooi was – en die foto het jou aanspraak bevestig. En elke keer as ek gevra het wat van haar geword het, het jy my tot orde geroep, want jy sou nog daarby uitkom.

En wanneer jy bewoë geraak het en die trane afgevee het, het ek geweet dit was vir jou gewyde oomblikke – en ek het net stil gesit en die aura daarvan beleef.

En toe haal jy die Bybel uit en lees vir my Psalm 38 voor – en jy sê dat dié inhoud jóú lewe weerspieël. En nog steeds het ek nie geweet nie!

En toe jy sê – en ek weet – was ek verslae.

En ek is huis toe … en ek het baie gedink … maar ek het nooit verstaan nie.

En toe ek en Kiewiet ’n week of twee daarna vir jou gaan kuier het, het jy weer vertel – maar dit was anders …

En daarna het ons telefonies nog baie gepraat … oor godsdiens, politiek, moraliteit, en nog baie ander dinge – maar veral oor die pyn en die eensaamheid!

En toe ek na die saak vir jou gesê het jy moet die verlede vergeet want daar wag vir jou nou ’n nuwe lewe, het jy geesdriftig ingestem en gesê dat dit net die inplanting is wat tusssen jou en jou nuwe lewe staan – die inplanting vir pynverligting wat nooit sou plaasvind nie!

En toe ek die oggend van ons matriek-weersiens jou groet na jou oproep om ons ’n mooi dag toe te wens, het ek nie geweet dit sou ons laaste groet wees nie …

En toe Tina sê “Kerrie is dood”, het ek geweet ’n vriend is weg – en deur my gedagtes het die eensaamheid en die sterwe van die Dias-gebed (soos deur Van Wyk Louw beskryf) geflits:

en wees by alle eensaam dinge, en dié wat eensaam sterwe ...; en wees, my God, tot in die laaste skrik nog hier by my.

Willie

Naskrif

Kerrie se laaste SMS aan my:

Môre Willie en dankie vir jou welkome oproep. Is daar iets geskryf oor Piet N.J. Maritz, 'n getroue vriend wie se lewe so vroegtydig en wreed van hom ontneem is. Groete en seënwense.

17 Oktober 2010




Ons ou skoolmaat, Rudi, is weg.


Ons paaie het vyftig jaar gelede uiteengeloop. Nooit het ons kon dink dat ons iewers in die toekoms mekaar weer sou sien nie. Tog was dit enkeles van ons beskore om Rudi die afgelope jaar weer te ontmoet en gesprek te kon voer. Ek het die voorreg in Desember 2009 gehad toe ek Rudi op 16 Desember in Napier besoek het.

Nou is dit ook so dat wanneer ’n mens afskeid neem, daar soveel herinneringe is wat opgeroep word. En dan is daar natuurlik die wete dat ’n deel van jou eie herinneringe in die niet verdwyn wanneer iemand wat ook jóú verlede met jou deel, nie meer daar is nie.

Al kan ons nie meer ons herinneringe met Rudi deel nie, kan ons tog put uit wat ons ván Rudi onthou.

Ek sal Rudi altyd onthou as die skitterende rugbyspeler wat hy was, tot met ons ondervyftien-jare as ’n kranige senter wat menige bresse in die verdediging geslaan het – daarna as ’n onstuitbare losvoorspeler. Rudi sou sekerlik na ons hoërskooljare ’n roemryke rugbyloopbaan kon hê as hy dit ernstig sou oorweeg.

Maar ek onthou Rudi ook as mens – effens teruggetrokke, en altyd ordentlik en hoflik. En dan was Rudi doelgerig – hy het geweet waarheen hy op pad was. As ek reg onthou, het hy vanaf ons standerdses-jare gesê dat hy medikus gaan word. En hy het! Anders as die meeste van ons ander wat teen die tyd dat ons in matriek aangekom het, menige moontlike nerings ter oorweging agter ons gehad het. En dan het baie van ons toevallig geword wat ons geword het. Ek kon nooit verstaan hoekom Rudi hierdie byna-obsessie gehad het om geneesheer te word nie. En toe vertel hy my verlede jaar – na byna vyftig jaar – hoe sy paadjie reeds kleintyd vir hom uitgestippel was. En toe verstaan ek alles.

Ek het soveel ontbeer in die byna vyftig jaar wat ek nie met ons ou klasmaat kontak gehad het nie. Met my laaste ontmoeting het ek besef hoeveel ryker ek sou kon wees as die jare nie kontakloos was nie.

Maar toe ek laatoggend op 16 Desember 2009 daar wegry en vir oulaas waai, het ek besef dat wat ek dié kort oggend van en oor Rudi geleer het, my nog baie jare sou bybly. En al het Rudi vir my nog altyd Rudi gebly, is daar een dimensie van sy menswees wat vir my onbekend was – ’n wesensaspek wat ek altyd hoog sal ag, ook teen die agtergrond van die professie waarin hy hom bevind het: sy diep gelowigheid.

Ons groet Rudi in die wete dat ons die voorreg gehad het om ons wordingsjare met hom te deel, dat van ons miskien onbewustelik aan sý menswees geslyp het, maar dat hý met sy besondere geaardheid ook óns help slyp het.

Tot siens, ou maat!

Willie

Ora skryf:

Ek heg die stukkie aan wat ek geskryf het vir die diens van Rudolph. Ek het ook vir die dominee gevra om jou brief wat jy oor hom en julle besoek hier geskryf het voor te lees. Hy wou nooit hê ek moet ’n lewenskets deurstuur vir die blog nie – was maar altyd beskeie oor wat hyself bereik het. Mag julle ’n geseënde Kerstyd beleef. Min het ons geweet verlede jaar hierdie tyd dat dit ons laaste Kersfees saam sou wees.

Baie groete.

Ora

Barend, sal jy dan open, verwelkom soos gewoonlik en dan vir Jaques voorstel. Aan die einde dan die stukkie en bedankings – jy hoef nie te lees nie en kan maar eie woorde gebruik en verkort. Het net geskryf soos ek gedink het. Ora

Rudolph Jacobus (Rudi) Laubscher (17/02/1942 – 22/11/2010)

Rudolph Jacobus Laubscher is op 17 Februarie 1942 op King Williams Town in die Oos-Kaap gebore. Sy pa was ’n speurder in die polisiediens daar. Hier het hy ook met Xhosa kennis gemaak, iets wat hom in die tyd wat ons op Oos-Londen gewoon het en ook hier op Napier, handig te pas gekom het.

Hy woon later vir lang periodes by sy oupa en ouma op die plaas in Piketberg-Eendekuil se omgewing en leer ook daar die veld en diere deur sy oupa se oë en ore ken. Daar is male sonder tal stilgehou op pad na die kliniek op Elim om ’n dier of voël van naderby te besigtig en geen skilpad is in die pad gelos nie! So het hy ook op Napier dikwels goggas, tarentaalvere en ystervarkpenne wat hy opgetel het huis toe gebring wanneer hy soggens of namiddae gaan fietsry het. Hy het die namiddag voor sy dood weer gaan ry en ek kan maar net raai waar die toktokkie wat ek later die aand daar in ’n bakkie gekry het vandaan gekom het.

Ek ontmoet Rudolph in 1966, die jaar waarin hy die graad BSc Mediese Wetenskappe aan die US behaal. Ek reis saam na die gradedag vanaf Johannesburg waar ons albei gewoon het en besoek toe ook sy oupa se plaas vir die eerste keer. Hy sit sy mediese studies die volgende jaar aan die Universiteit van Stellenbosch by Karl Bremer Hospitaal in Bellville voort.

Ons trou in 1969 en hy kwalifiseer in 1970. Huisdokter en senior huisdokterjare volg by Karl Bremer en daarna vertrek hy vir ’n raps meer as ’n jaar diens in die mediese bataljon van die Weermag. Na afloop van ’n termyn as mediese beampte by die Frére Hospitaal in Oos-London, aanvaar hy ’n pos as lektor in die Departement Anatomie in Stellenbosch waar hy twee jaar klasgee en studeer.

Rudolph het in Bloemfontein sy studies as kliniese patoloog wat hy by Tygerberg begin het, voltooi. Hy werk en gee vir 6 jaar klas in die Departement Anatomiese Patologie maar mis later die kontak met gewone lewendige mense. Ons moes uiteindelik kies tussen ’n groot stedelike patologiepraktyk in Johannesburg en ’n plattelandse kleindorpse distriksgeneesheerpraktyk.

Die res is geskiedenis.

Rudolph vertrek op 30 Mei vanaf Bloemfontein na Napier en ons sluit in Desember 1986 by hom aan.

Alhoewel die Overberg inkommers nie geredelik aanvaar nie, het die Overberg in die loop van die bykans 25 jaar stilweg op ons gegroei. Rudolph het hard gewerk in die eenmans-distriksgeneesheerpraktyk, miskien te hard, en veel tyd vir ander dinge en vakansie was daar nie juis nie.

In die eerste 6 maande was dit veral mense soos Marieta en Danie Giliomee van Klipdale en Danie en Erina Fourie van Blomfontein wat hom met hulle vriendskap deurgedra het, terwyl die visbraaie, kuiers en geselsies saam met ds. Andries Auret en Luna by die pastorie, ook vir hom hoogtepunte was. Elim en Baardskeerdersbos se mense het hy ook goed leer ken tydens die weekliks klinieke. Elim is vandag steeds baie baie na aan ons hart en die middag saam met Geluksoord se mense sowat een maand gelede, was ’n besondere hoogtepunt. Min het ons toe geweet dat dit die laaste uitstappie saam na Elim sou wees. Ons het Chrissie Viegeland daar leer ken en sy het daarna vir jare eers by ons en daarna ook by Huis Klippedrift gewerk. Langs hierdie weg het ons begin deel in die lief en leed van die uitgebreide gesin Viegeland.

Jaques van den Berg was sedert sy gesin se aankoms op Napier sowat 12 jaar gelede vir Rudolph ’n vriend en geesgenoot. Hulle het saam gebid en saam rugby gekyk tot op die einde. Min het ons geweet dat hulle twee se samesyn, op 20 November, die laaste sou wees.

Dankies

’n Baie baie spesiale dankie aan Nonnie en Arie Shephard. Rudolph se verbintenis met haar en haar gesin, trouens met die hele Lourens-familie, strek van die dag toe oom Kerneels Lourens een van sy heel eerste pasiënte geword het met wie hy ’n spesiale verhouding opgebou het, dwarsdeur die jare toe sy self in die spreekkamer en op die klinieke gehelp het, tot op die hede.

Vir Louisa Titus wat die laaste paar jare die pad saam met ons gestap het. Vir Michelle du Toit, Marie October, die gesin van oorlede Willie Simons en Lina van Niekerk wat al 26 jaar aan ons sy gestaan het en sommer almal – ek kan tog nie al die name noem nie! Soos iemand wat ek vanoggend opgelaai het op pad Bredasdorp toe gesê het: “Dokter was ons dokter, nie net ’n dokter van die vlees nie maar ook ’n dokter van die gees.” Soos sy oupa Flip het hy nie net naby aan die natuur gelewe nie, maar ook naby aan sy God.

Dankie ten slotte vir Helene Truter wat soos so dikwels die afgelope tyd, met ouma Potgieter se siekte, dadelik gekom het toe ek haar gebel het.

Dankie aan almal wat Maandagaand, Dinsdag en daarna kom inloer het en net kom saam sit en gesels het.

Dankie vir SMS’e, oproepe en blomme.

Aan Barend Smit vir meelewing en troos, ’n tweede keer binne minder as een jaar.

Laaste en eintlik glad nie die minste nie: dankie vir jou, Marcel, en vir Glynne en vir klein Keira, vir julle daarwees.

’n Mens begin saam ’n lewenspad stap, opgewonde en vol vreugde – maar jy besef nooit voor dit die dag op jou pad kom, dat hierdie lewe ook hartseer saam met vreugde kan opdis nie. Rudolph het altyd gesê: “Kyk boontoe, jy weet waar jou hulp vandaan kom.”

En nou is dit weer sulke tyd.

Soos wat daar geskryf staan in die gediggie wat in Jeanne se begrafnisbrief afgedruk was, glo ek, hy is nie dood nie, hy het net oorgestap, en nou lewe hy eers. Maar die lewe hier op aarde gaan aan en die oggend na sy dood het die twee swart katte en die Jan Frederikke soos elke ander dag in die vensterbank van sy studeerkamer kom sit en wag vir hom. Hy het elke oggend voor die dag se gewoel begin het, hier kom sit om te bid en Bybel te lees.

Ora



Ons onthou Dennis




Wat ek die meeste onthou van Dennis was sy netjiese hare en jy kon hom altyd deur ‘n ring trek.  Hy was ‘n baie beskeie, dog vriendelike persoon met skerp sin vir humor.  Ek onthou toe hy saam met ons klomp vriende,  in die klipkoppie oorkant die skool ons toebroodjies gaan eet  en die koggelmanders dopgehou het. - Josef


Dennis was, van al ons klasmaats, seker dié een met wie ek die meeste te doen gehad het.  Ons het baie speeltye saam iewers op die speelgrond gesit en gesels.  Ek sal altyd die dag onthou (ons was nog in standerd 6) toe ek vergeet het dat ons dié dag ’n Bybelversie moes ken vir die Bybelklas en Dennis toe vir my Efesiërs 6 vers 11 (sommer so uit sy kop) aangehaal het: “Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel”  Nie alleen het hy die presiese woorde van die teks geken nie, maar ook die plek waar dit in die Bybel voorkom! - Dirk


6. Lewensbeskrywings

Betsie

Betsie skryf:

Willie

Baie, baie dankie vir die lys wat jy vir my gestuur het. Ek werk nog baie, baie hard. Ek het verskeie welsynsprojekte vir behoeftige, arm Afrikaanse gesinne. Beyers Bytjies is een van my projekte. Ek het 140 behoeftige kleutertjies – baie van hulle erg milieugestrem. Kry geen staatshulp nie en is afhanklik van donasies. Die Here is egter vir ons baie, baie goed.

My man, At, is al afgetree. Hy was ’n meganiese ingenieur by Transnet, maar ons boer ook al die afgelope 36 jaar (!!) op ’n deeltydse basis in Wes-Transvaa (Sannieshof). Hy kom elke naweek Pretoria toe. Een week werk ek en die volgende week gaan ek saam met hom. Ek het op die plaas ’n reuse-groentetuin en 35 wilde katte. Leef baie primitief, het geen elektrisiteit (dus geen TV) en woon in ’n ou huis wat in 1910 of 1930 gebou is: houtvloere en staalplavonne, dik mure wat gepleister is met grond.

Ek het twee kinders: ’n dogter, Thea, wat ’n ekonoom is en ’n skoonseun, Jean, wat ’n ontwikkelaar is. Ek het ’n wonderlike, wonderlike skoonseun. Twee kleinseuns, Juan (8jaar oud) en Reuben (5 jaar oud). Hulle is die punt van my hart.

My seun, Johannes, is in die IT-besigheid. Sy vrou, Adri, is ’n HR. Hulle het nog geen kinders nie en hulle is my bure. My dogte woon so 2 kilometer van ons af. Dan het ek twee viervoetkinders waarvoor ek baie lief is.

Betsie

Hendrik (Gerard)

Hendrik skryf:

Ek het slegs een jaar aan die Goudstadse Onderwyskollege deurgebring (1961). Ek gaan noodgedwonge by die Stadsraad van Johannesburgse in die tesourie-afdeling werk, vir sowat drie jaar. In Augustus 1964 verander ek van werk en betree die privaat sektor by Mitchell Engineering, later L & C Steinmuller (stoomketels vir Eskom gebou, nie klaviere nie).

Vroeg 1980 begin ek werk by die SAUK as interne ouditeur en gaan maar deur die proses van bevordering totdat ek in September 2007 aftree. Dis hier waar ek verneem het dat Hein Jordaan ook by die SAUK werksaam is, maar hy is alreeds een van die topbestuur en ek sien hom net so nou en dan in die gange. Dis ook hier by die SAUK dat ek my vrou, Susan, ontmoet.

Ons trou toe in 1982, my tweede huwelik. Ons het twee kinders, ʼn seun en ʼn dogter, Johann en Elzisha. Susan is ook afgetree (2003) weens swak gesondheid. Sy is in die middel 90’s met meervoudige sklerose gediagnoseer, maar die simptome is darem in remissie en sy funksioneer heel normaal. Sy het ook lang jare diens by die SAUK, lank in menslike hulpbronne en later in die inligtingstegnologie om die personeelbestuur- en vergoedingstelsels te ontwikkel en te bestuur. Sy het ook by RAU geswot, M.A. in kommunikasie, bid jou dit aan.

Ek is in 1965 met Rina Edwards getroud. Sy was ook ʼn leerling by D.F. Malan, maar voltooi haar skoolloopbaan by die Handelskool in die stad. Ons het twee seuns, Gerhard en Werner. Ons is in 1979 geskei.

Ek studeer BCom by Unisa met gemengde sukses, meesal minder sukses. Vanaf 1969 tot 1971 swot ek BCom by die destydse RAU. Nou het ek nie eers meer ʼn alma mater nie, en ook is die skool nie meer nie, laat jou dink, of hoe?

My tydverdryf is veral om gholf te speel en takies in en om die huis te verrig, ʼn geval van ʼn ou man wat ʼn ou huis moet onderhou, maar dis terselfdertyd goeie terapie.

Ek is ʼn lid van die raad van trustees van die SAUK-Pensioenfonds, en as sodanig is die belangstelling in die ekonomie ook belangrik om ʼn sinvolle bydrae te kan lewer.

As ek geleentheid kry, duik ek ook nog SCUBA en ek doen ook vlieghengel. Ek het vroeër vanjaar vir die eerste keer saam met my broer in Namibië naby Aroab gaan jag en my eerste gemsbok geskiet. Ek beplan om weer volgende jaar ʼn draai in die jagveld te maak. Die leeuspan is maar nog altyd my span, maar ek praat nie te veel oor die manne nie. Ons sal weer eendag in rugbykringe indruk maak. Ons hou daarvan om ook rond te ry, blomme kyk, Namibië te besoek, en beplan Mosambiek volgende jaar, ook weer Kaap toe ʼn slag. Botswana is op die planne en ook om vir my seun Werner in NZ te gaan kuier.

Hendrik

Diederik (Dirk)
 
Diederik skryf:
 
Ek is gebore in Randfontein maar kort daarna het ons na Braamfontein verhuis waar ek my kleuterjare deurgebring het. Na ses maande in Braamfontein Laerskool verhuis ons na Crosby en ek voltooi my laerskoolopleiding by Crosby Laerskool.
 
Ek matrikuleer in 1960 by Hoërskool D F Malan.
 
My grootste begeerte, as kind, was om eendag in die teologie te gaan studeer. ’n Mens se lewenspad word egter nie deur jouself bepaal nie en omstandighede noop my om ’n loopbaan in die bankwese te aanvaar. Op 8 Desember 1960, ’n dag nadat ek vir die laaste keer skool toe is, begin ek dus by die Newtowntak van destydse Barclays Bank te werk.
 
In Februarie 1961 begin ek met militêre diensplig by 57 K & T-Kompanie. Wat ’n mors van tyd! Al wat ek daaruit gebaat het, was ’n goeie begrip van alle vlakke van die samelewing.
 
Ek tree op 6 Maart 1965 in die huwelik met Petro van der Walt en presies ses jaar later, op 6 Maart 1971, is ons eerste seun gebore en ons tweede seun die jaar daarna.
 
Vroeg in my loopbaan het ek besef dat ek, as Afrikaner, hard sal moet werk in ’n omgewing wat oorheers word deur Engelse wat destyds maar min respek vir my geliefde volk gehad het. Ek dink dit is dan ook hierdie besef wat my aangespoor het om niks minder as die beste te lewer én te verwag nie. My eerste doel was dus om die Diploma van Die Instituut van Bankiers te slaag – wat ek dan ook vyf jaar na diensaanvaarding bereik het.
 
Ek bestee die eerste helfte van my loopbaan in drie takke, naamlik Newtown, Braamfontein en Carltonsentrum. In 1979 is ek, grootliks as gevolg van die feit dat ek by Unisa begin studeer het vir ’n BCom-graad, ’n pos aangebied in die Rekeningkundige Afdeling by hoofkantoor. Ek verwerf die graad BCom in 1985 met Ekonomie en Rekeningkunde as hoofvakke.
 
Gelukkig getroud en met ’n redelike mate van sukses in my loopbaan, het die lewe my en my gesin baie goed behandel tot in 1995 toe ek met kanker (’n karsinoom in my neus-, keel- en oorholte) gediagnoseer is. Genadiglik was die behandeling daarvan suksesvol maar die chemoterapie, en veral die radiobestraling, het sy tol geëis. Ek het dus die opsie van vroeë aftrede in Maart 1998, as gevolg van regstellende aksie, onmiddellik aanvaar.
 
Teen hierdie tyd was ons al vir agt en twintig jaar baie gelukkig woonagtig in Alberton maar na vyf inbrake terwyl ons slaap, en dit binne ’n kwessie van ’n paar maande, besluit ons genoeg is genoeg en verhuis ons in Oktober 1998 na Stilbaai. Hier het ek, van die huis af, raamwerk vir die kunstenaars in en om die dorp gedoen terwyl Petro haar op haar skilderwerk toegespits het. Die raamwerk het egter so uitgebrei dat dit naderhand in ’n agt-tot-vyf-bedryf ontwikkel het. Dit het ons beroof van daardie paar ure saam op die strand of sommer net rondry in ons mobiele woonwa om te gaan blomme kyk. Ek het dit dus in 2008 gestaak en die masjinerie verkoop.
 
Ek het ook vir ’n paar jaar in ’n koor, die Bel Canto-sangers o.l.v. Bettie Niehaus, gesing. Wat ’n wonderlike ervaring was dit nie!

Diederik

Maurice

Maurice skryf:

Ek lees so lekker wat julle ouens skryf. Baie dankie aan Willie vir sy inisiatief en moeite om ons klomp na 50 jaar weer bymekaar te bring. Toe ek die naamlys so deurkyk en sien hoe ons klasmaats presteer het, het ‘koshuisvader’ nogal afgesteek, maar Tina, met haar entoesiasme, het my maak belowe om te skryf.

Ek kan nie meer veel onthou van ons skooldae nie en sal dus liewers skinder oor my latere (goeie) wedervaringe, want baie meer het met ons gebeur, na matriek, as in die paar jaar in D.F. Malan.

Na my onsuksesvolle jaar op Tuks het ek vir 2 jaar vir die Spoorweë gaan werk en begin rugby speel by Westelike Gebiede, daar op die ou asveld. Op ’n stadium het die eerstespan en ons onder 20’s in Pietersburg gaan speel. Na die wedstryd het ons eers gekuier en laat die aand met ons lekker lyfies in die hotel se swembad gespring en in ons adamsgewaad begin piramides bou. Die sterkstes vorm ’n kring heel onder en die ander bou die volgende kring bo-op hulle skouers. Ons laaities moes laaste opklim. Toe kry ek ’n idee om die piramide in ’n ligter luim te laat “bou”. Ek verdwyn toe onder die water en lui een van die goot slotte se klok. Hy was so geskok dat hy alles netso los, om sy kroonjuwele te beskerm, en met groot dreigemente aan die “saboteur” stort die hele toring in duie. Nadat hulle gekalmeer het, bou hulle toe maar weer van voor af, met dieselfde gevolge. Hierdie geheim deel ek met julle want julle sal mos nie uitpraat nie.

In 1964 het ek by Goudstad ingeskryf om B.Com te studeer. Aanvanklik het dit met die studies goed gegaan. Ek het toe ’n motorfiets gekoop en vakansies in Welkom op die myn gaan werk. Een aand was ek laat vir die nagskof en moes, heel onwettig, alleen in ’n hysbak met pype en planke en sement, afsak ondergrond om my skof te werk. As gevolg van die gifgasse wat die dinamietontploffings veroorsaak, moet almal in die middag uit die myn wees. Een middag het ek my span ’n bietjie langer ondergrond gehou om die taak vir die dag te voltooi. Skielik hoor ons ’n ontploffing wat so deur die rotsmassas aangedreun kom en kwaai vibreer in die tonnel waar ons besig was. Ek skrik baie groot en dink: vandag is ek verantwoordelik vir die dood van my hele span werkers, want die dag se dinamietontploffings het al begin. Ek verstar en met groot oë staar ek my werkers aan, want as hulle sou begin hardloop na die hysbak toe om te ontsnap, sou ek verby hulle geseil het. Hulle roer nie en en gaan doodluiters aan met hulle werk. Ek was baie verlig en het besef dat dit maar ’n enkele gekontroleerde ontploffing was.

Aan die einde van my derde jaar op Goudstad het ek ’n paar vakke gesleep en worstel toe of ek moet teruggaan Kollege toe. Ek lees toe in die koerant van ’n Duitse firma wat outjies soek om in Duitsland opleiding te ondergaan. Ek kon die geleentheid nie laat verbygaan nie en het ingeskryf. Volgens hulle was hierdie opleiding vir hulle meer werd as ’n B.Com. Dis nou hier waar ou Jan Vark se Duitse klasse my goed te pas gekom het. Na ’n jaar is ek, einde 1967, Duitsland toe. Dit was wintertyd in Europa en die wêreld was sprokiesmooi, bedek met sneeu, net soos in die fliek “Dr. Shivago.” Die eerste aand in München stap ek, honger, in die sneeubedekte strate en waag dit om met my gebroke Duits vir ’n egpaar te vra waar ’n mens kan gaan eet. Ek het vir ’n paar oomblikke verstom gestaan toe ek besef het dat ons mekaar verstaan het. Na 2 jaar het ek die staatseksamen van die Duitse Handelskamer in München afgelê en die titel “Industrie Kaufmann” (Commercial Administrator) verwerf.

Ek het in Hamburg gebly en het gou uitgevind dat daar 5 rugbyklubs was. Vrydagaande het ons span in ’n skoolsaal geoefen, want buite was dit bitterkoud en bedek met sneeu. So teen 23h00 was ons gewoonlik klaar gestort en het dan die stad ingevaar om te gaan bier drink. Menigkeer eers drie-uur by die huis gekom. Sondagoggende het ons, voor die wedstryd, eers die veld geïnspekteer of die sneeu nie verys was nie, want dan kon ons nie speel nie omdat die dun lagie ys so skerp soos glas was. Op ander Sondae het ons met besems net die veld se kantlyne skoongevee sodat ons kon sien waar om te speel. Die Duitsers leer eers rugby speel nadat hulle die skool verlaat het. Om dan so tussen die “blindes” rugby te speel, was ’n fees! Soms kon ek vinnig by die lynstane wegbreek en sommer so 2 of 3 van die opponente se agterlyn met bal en al onderstebo loop. Op ’n keer het die opponente met ’n massiewe voorspeler in hul span gespeel. Hy kry toe die bal en natuurlik wou nie een van ons span hom grond toe bring nie en kon hy lag-lag ’n drie gaan druk. Met groot gemak doen hy dit later weer, maar met die derde slag was ek naby genoeg en ek seil onder hom in en hy slaan neer soos ’n dooie os. Ons span se spelers kon nie glo dat ’n klein laaitie so ’n reus grond toe kon bring nie en skree vir my: “Maurice, Du spielst wie ein Tiger!” (Jy speel soos ’n tier)

Een Sondagoggend het ek ’n Duitse nooientjie saamgevat om vir haar te wys hoe rugby lyk. Na die wedstryd vat sy so aan my arm en sê: “Bist Du aus Gummi gemacht?” (Is jy van rubber gemaak?) Want jy val, spring op, hardloop, val spring op … net soos ’n rubberbal.

Deur die rugby het ek vir Deon van Zyl ontmoet en ons twee het besluit om met my ou Beatle te gaan toer. Ons het sommer in die kar geslaap en in die stede se publieke waskamers hare gewas en met hulle handdroërs drooggeblaas. In Stockholm het die opsigter ons probeer verwilder, maar toe hy sien ons is buitelanders, het hy ons baie vriendelik toegelaat om klaar te maak. Een nag, in Stockholm, word ons wakker van mans wat om die kar staan en inloer. Ons kom toe agter dat die bos waar ons met die kar wegkruip en slaap, was al die tyd die vergaderplek van die moffies waar hulle mekaar snags ontmoet. – Ons is toe baie vinnig daar weg!

Ons mikpunt was Kaap Noord, die noordelikste punt van Europa. Dit staan ook bekend as ‘die land van die middernagson’, want in die somer skyn die son vir 6 maande lank. In die nag word dit net effens skemer. Een nag kom ons by ’n dorpie aan maar dit lyk of dit 4 nm is. Ons wou petrol ingooi, maar die vulstasies en al die winkels was gesluit en daar was geen mens te sien nie, want almal het geslaap. In Helsinki ontmoet ons vir Stefan Serlachius, ’n Noorweegse student, wat ons help om Russiese visums in ons paspoorte te kry. Daar was, naamlik, ’n naweektoer met ’n boot van Helsinki af tot by Leningrad (vandag is dit weer herdoop na St Petersburg.) Hier het ons ’n bustoer deur die stad onderneem, maar die bus is die hele tyd deur ’n swart kar agtervolg. Elke keer as die bus stop, stop die kar ook en twee mans spring uit en lig die enjinkap op, asof hulle die enjin nagaan. Ons het die toer geniet, maar was die hele tyd onrustig oor wat dalk in Rusland, agter die ystergordyn, met ons kon gebeur.

Een Desembervakansie het ek met my ou Beetle deur Engeland getoer. Dit is natuurlik winter daar en die sneeu lê oral dik gestrooi. Ek slaap sommer in my kar, binne-in 2 slaapsakke. Een nag was dit so koud dat ek die enjin moes aanskakel en laat luier om warm lug in te blaas en so kon ek weer aan die slaap raak. Daardie oggend vroeg klop ’n man my wakker en wou weet of ek besig is om selfmoord te pleeg. Dit was ook die jaar toe die Bokke in Engeland getoer het. Ek sit toe agter die pale op Twickenham, waar een betoger homself voor my oë aan die doelpale vasgeboei het.

Terug in RSA het ek by die Duitse firma begin werk en is later met ’n blondine SA nooi getroud en ons is toe geseën met 4 kindertjies wat tweelingdogtertjies insluit.

In 1975 stuur die firma my weer vir verdere opleiding Duitsland toe. Hierdie keer gaan my vrou en ons eerste 2 kindertjies saam. Gedurende Augustus, wat Europa se somervakansiemaand is, toer ons deur Europa met ons ou Renault-karretjie en ’n tent. Ons moes maar op ’n padkaart staatmaak, wat nie altyd so suksesvol was nie. Met die kindertjies op die agterste sitplek, wat ons fyn dophou, hoor ek nog steeds ons 3-jarige dogtertjie, Odette, met ons raas: “Al wéér verdwaal!”

Nooit het ek in my lewe kon droom dat ek Crosby ooit sou verlaat nie, maar in 1982 het ons die ou Lido Pleasure Resort, langs die Lido Hotel, in Eikenhof, gekoop. Op daardie stadium was die plek ’n verlate diskoteeksaal met swart en pers mure, wat ons weer heeltemal wou omskep in ’n woonhuis. Ons was nog besig met die veranderinge, toe begin dit kwaai reën. Die Kliprivier het sy walle oorstroom en die water het tot teen die huis opgestoot. Ek het die watervlak teen die huis se bakstene gemonitor en kon sien hoe die watervlak styg en weer sak. Onrustig, staan ek een nag op, terwyl my vrou en ons 4 kindertjies rustig slaap. In die kombuis sien ek hoe die water, onder die deur, die huis binnestroom. Dit was donker en ons kon nie die huis ontruim nie. Omdat die plafonne nog nie voltooi was nie, dra ek toe planke, matrasse en beddegoed met ’n leer tot binne in die plafon. Toe eers maak ek die familie wakker en begelei hulle met die leer op boontoe. Skielik gil ons 4-jarige tweelingdogtertjies dat ek hulle katjie onder vergeet het. Ek moes toe maar eers die katjie gaan “red.” Dit kos my afklim tot binne in die water, wat toe al enkeldiep in die huis was. Later die nag hoor ek ons groot hond deur die water loop en ek dink: “Vannag hoor ek hoe my eie hond in die huis verdrink, want hy is te groot om ook in die dak te tel.” Skaars terug in die plafon, of al die ligte gaan af, omdat die watervlak tot binne in die muurproppe gestyg het. Nou lê ons in die donker en kon al die oorstromingsgeluide buite hoor. Ons hoor byvoorbeeld ’n geweldige dreuning buite, soos iets wat die watermassa probeer meegesleur. Ons was skoon benoud want vars in ons geheue is nog die TV-tonele van die vorige jaar, toe die oorstromings groot skade in Laingsburg aangerig het. Nou lê ek onrustig en wonder of ons huis ook so weggespoel gaan word.

Vroeg, die volgende oggend het ek die kinders een-vir-een deur die kniediep-water tot oor die oorstroomde laagwaterbruggie gehelp en hulle gebied om nie weer deur die water terug te kom huis toe nie. Iemand kom toe sommer met ’n trekker daar aan en sleep my kar uit. Op die oorstroomde bruggie wou die rivier die kar met my binne-in meesleur, maar ek gee net een gil en die trekker gee vet en trek my weer tot op vaste grond. Toe die rivier na ’n paar dae voldoende gesak het, het ons die deurdrenkte matte bo-op die dak gegooi, om droog te word. Daar was 100 jong hoendertjies in ’n skuur besig om groot-gevoer te word, maar nie een het oorleef nie. Die gedreun van die vorige nag was al die tyd ’n klomp 200 liter-oliedromme wat deur die water teen die groot brug se reëlings vasgespoel was. Alles binne in die huis het op die water rondgedryf, selfs ook ons langspeelplate.

Toe volg die taak om die ontspanningsoord in sy ere te herstel. Ons het wilgerbome geplant en met die hand natgely, sodat hulle vinnig kon groei. Ons het grond laat aanry en met ’n stootskraper laat gelykstoot. Langs die rivier het ons ’n wal gebou deur 2 groot dromme bo-op mekaar te stapel en vol klippe te maak. Die grond het ons tot teen hierdie dromme laat stoot en selfs ’n wal laat gooi om toekomstige water weg te keer. Intussen het my huwelik van 13 jaar op die rotse geloop en is my vrou met ons 4 kindertjies na haar ma toe, in Uitenhage, en so het alles by die Lido platgeval.

Ek het toe maar begin Volkspele speel, waar ek later die mooiste dingetjie ontmoet het, wat geen moeite ondervind het om ’n jaar later ’n lieflike strop om my nek te hang nie. Na 21 jaar se getroude lewe het sy ’n tydelike onderwyspos in Doebaai aanvaar, maar na 3 maande kry ek die droewige nuus dat sy nie weer terugkeer Suid-Afrika toe nie. Ek is seker al 5 jaar alleen en speel nou koshuisvader. Niemand het nog weer oor my pad gekom wat my voete onder my kon uitslaan nie. (Bangjan?)

As koshuisvader, wat net kinders oppas en heeldag taxi bestuur om hulle by die skole te kry, kan ek nie op my oudag vanuit ’n hoogtepunt in my lewe spog nie. Daarom beny ek julle ouens wat so suksesvol is en wat diep spore in die lewe getrap het; julle geseëndes!

Wat my nog sekerheid in hierdie lewe gee, is die wete dat ek op pad is hemel toe en dat ek oor die lewe moet heers, met die krag van Bo en my nie mag laat onder kry nie.

Maurice

Frans (Shawe)

Frans skryf:

Nadat my pa die plaas verkoop het, het ek in Crosby Laerskool beland in st. 1. Oor die gebeure op skool kan ons later gerus praat. Na skool het ek begin werk by Trustbank. Ek het gou gevorder na kassier en beampte in beheer van die ontvangs van debiteuregeld. Met die oorskakeling na Rand en sent, was dit vir my 'n aangename ervaring.

Behalwe dat ek met die interne kursusse van die bankwese aangegaan het, het ek ook CIS (Chartered Institute of Secretaries) gedoen. In hierdie tyd was ek ook baie betrokke by die KJV waar ek onder andere verskeie kampe en toere gereël het. Naas die Ridders van die Swart Woud, het ek k kort na skool begin sing in die Asafkoor onder leiding van dr A.D.Keet. Die mees aangrypende oomblikke van my koorverbintenis was die huldigingsaand vir dr Keet in die Johannesburg Skouburg kort voor sy dood. (Sy bronsbeeld pryk nog vandag daar.)

By een van die KJV-kampe het ek nader kennis gemaak met Annette, wat later my vrou geword het - nou amper 45 jaar. Ons eerste kinders was 'n identiese tweeling seuns (Down's Sindroom). Hierdie gebeurtenis was ingrypend en dit het ons hele lewe in 'n ander rigting gestuur. (Oor die invloed en hantering van so 'n saak, kan ons later gesels.) Geld was daar nie en as onderwyseres kon Annette nie meer skoolhou nie, en was ons verplig om haar studielening af te betaal.

Hierna het ek by Sanlam begin werk en baie gou gevorder tot in 'n bestuursposisie. Tydens my aftrede was ek deel van die middel/senior bestuur van die maatskappy. Ten spyte van hoë uitgawes en die feit dat Annette vir 'n baie beperkte tyd geld verdien het, was ons geseënd en het dit met ons finansieel goed gegaan.

Teen die tyd dat ek 48 jaar oud was, was ek op die punt van finansiële onafhanklikheid. Op 55 het ek met pensioen gegaan. Uit die aard van my verbintenis met die finansiële wêreld, het ek 'n billike kennis van die JSE en die beleggingswêreld. Vandag hanteer ek nie net my eie beleggings nie, maar neem ook finale besluite oor my pensioengeld se beleggings. Na my aftrede het ek opgetree as konsultant vir pensioenfondse, pensioenarisse en klein maatskappye. Op die oomblik is ek redelik betrokke by kerklike aangeleenthede. Ons is lief vir reis, veral 4 x 4 toere. Hier het ons op ons kerfstok, die hele S.A., Lesotho, Swaziland, Botswana, Angola, Malawië, Mosambiek, Namibië, ens. Ek is verder lief vir fotografie, veral natuurfoto's.

Uit ons huwelik is ook 3 dogters gebore. Ons het 7 kleinkinders wat almal tuisonderrig ontvang.

Op skool het ek so 'n bietjie in sport presteer , veral hoogspring en tot interbond gevorder. Na skool het ek begin lang afstande hardloop. Ek het talle marathonwedlope en selfs die Comrades op my kerfstok. Vanaf 1986 het ek ernstig oorgeskakel na fietsry. Hier het ek talle medaljes en trofeë verower. In my laaste Argus het ek in die ouderdomsgroep 60-65 darem no 35 uit 685 mense gekom.

Ek en Annette is vandag DANKBARE mense en ons dank die Vader vir 'n wonderlike lewe.

Frans

7. Die weersiens

Ter wille van 'n vollediger prentjie van ons funksie heg ek drie diagramme aan wat ek gebruik het vir die beplanning.











Voor en na Weersiens 50 het ons 'n paar reaksies ontvang

1. Op 14 Oktober 2010 skryf Johan (Vermeulen):

Aanvaar dus asseblief my verskoning in die lig van voorgenoemde. Wees verseker dat ek in my gedagtes as't ware by julle sal wees op die besondere dag. Dra asb. my beste wense en groete oor aan almal . Mag julle almal 'n heerlike en onvergeetlike dag saam deurbring

2. Op 22 Oktober 2010 skryf Rudie (Laubscher):

Ons sal aan julle dink more! Soms kan 'n mens net nie wees waar jy graag wil wees nie!


In die gees sal ek saam met julle daar wees. Ek sien al jare uit na hierdie "eendag" wanneer al die ou skoolmaats weer saam sou kon kom en nou het Willie dit laat waar word. Die herinneringe wat reeds opgeteken is en die Kaapse "reunie" was egter my voorsmakie en ek wens julle almal 'n heerlike en genotvolle reunie in Johannesburg toe.

Groetnis aan almal. Rudi

NS 'n Spesiale groet aan my ou vriend Maurice!

3. Op 22 Oktober 2010 skryf Josef en Charlotte (Coetzee):

Boodskap aan ons 1960-klasmaats

'n Mens het net een lewe. En jy kan nie oefen daarvoor nie. Jy moet dit die eerste keer reg doen – want daar is nie nog 'n kans nie.

Tyd glip soos sand deur 'n mens se vingers. Dae, maande, jare. En ewe skielik sien 'n mens hoe daar tyd verby is waarvoor jy niks kan wys nie. Of dat jy nie alles gedoen het wat jy wou nie. Of dat jy bang is jy kry nie alles gedoen wat jy wil nie.

Want 'n mens beperk jouself so maklik. 'n Mens hok jou uniekheid in ter wille van die mense om jou – of as gevolg van die mense om jou. En jy leef nie uit wat jy is en kan wees nie. Dit is dan wanneer 'n mens voel jy’t iets gemis, iewers het 'n stukkie lewe leeg verbygegaan …

Maar 'n mens is ook lui, soms is ‘'n bepaalde situasie gewoon gerieflik. Of 'n gewoonte. 'n Mens kry niks meer daaruit nie – en belê ook niks daarin nie. En so verdoof roetine en gewoonte jou vry gees en beperk jou vermoë en verbeelding.

'n Mens is jou lewe – die beste daarvan – aan jouself verskuldig. ‘'n Mens se lewe is jou eie eerste verantwoordelikheid – nie wat ander wil hê jy moet doen en wees nie. Want die ander ervaar nie die frustrasie en benouing van onvoltooide drome en ideale nie. Die ander sit nie met die ingebondelde wete dat jy nog so baie kan doen – maar nie die geleentheid het nie. En die frustrasie proe later soos vrank kwepers …

As 'n  mens alles wat jy is kan uitleef; alles wat jy het kan gee, dan leef 'n mens jou kosbare, eenmalige lewe tot by sy grense. Dan drink 'n mens elke dag se soet – en bitter, soms, - leeg. Dan eet 'n mens jou lewe soos 'n soet somerperske – jy lek jou vingers af van lekkerte.

'n Mens dink soms jy het nie genoeg om te gee nie. Dat wat jy het nie so goed of slim of sterk is soos ander mense s’n nie. Maar elke mens se eie is goed – en goed om te gee. Dalk is dit meer as wat iemand dalk kon droom om te kry. Want dis jou beste, jou alles.

As 'n mens baie gelukkig is, is daar iemand vir wie jy jou alles wil en kan gee. Al is dit net vir 'n klein tydjie in 'n leeftyd. Maar dan is dit meer werd as 'n leeftyd van halwes. Want dit is jou beste en mooiste en kosbaarste – in volledigheid.

En dan kan 'n mens terugkyk en weet – eenmaal het jy alles gegee en dit was meer werd as die wêreld se skatte.

En jy’t een lewe tot oorlopens toe geleef.

Joe en Charlotte Coetzee

Paarl-groete

In gees saam met julle, maar a.g.v. omstandighede kan ons nie die wonderlike dag met julle deel nie. Ons sal baie graag wil hoor hoe die dag afgeloop het!!!!!!

4. Op 24 Oktober 2010 skryf Johanni (la Vita):

Beste Willem


Dankie vir die mooi foto's van die klomp oeries! En nogmaals geluk met 'n reuse sukses van 'n reünie. Die geselskap was baie interessant en die boerekos héérlik. Ek vermoed al die ou D.F. Malanners gaan nog vir 'n ruk lank iets hê om oor te gesels. Ek dink die dag was veral vir prof. Beneke 'n besondere ene. Ek is so bly hulle kon kom en dat almal hom met soveel liefde ontvang het. Julle klas van '60 was voorwaar 'n besonder oulike lot mense. Ek hoop daar is nuwe bande gesmee sodat al jou en Elsabe se harde werk nie verniet was nie. Omdat ek self van orde in my lewe hou, het ek die aandag wat aan al die detail bestee is, besonder waardeer. Dis mos maar hoe ek jou ken. Laat kom asseblief die rekening sodat die Bothas nie moet honger ly dié maand nie. En baie dankie dat jy my toegelaat het om te kom. Dit was voorwaar die moeite werd. Nou kan jy my help om die klas van '62 se reünie te reël.

Mooi loop!

Johanni

5. Op die oggend van 23 Oktober 2010 het Kerrie (Bekker) gebel en ons almal 'n baie mooi dag toegewens. Hy wou tog so graag kom - en het so gehoop dat hy dit tog sou maak - maar sy gesondheid het dit nie toegelaat nie.


6. Op 24 Oktober 2010 skakel Hester (Adams) om haar waardering uit te spreek en te vermeld dat die weersiens 'n nuwe dimensie van haar lewe geopen het.

7. Op 24 Oktober 2010 skakel Lidia (Botes) om haar waardering en gelukwensing met die funksie uit te spreek.

8. Op 24 Oktober 2010 skryf Erie & Ria (Pretorius):

Beste Willie

Baie dankie vir die weersiens!!!!!! Dit was 'n wonderlike ervaring om al die ou skoolmaats weer te sien.

Ons sal dit nog lank onthou.

Ek is seker almal het dit net so geniet soos ons.

Baie dankie vir jou en jou vrou se harde werk, die dag was puik.Tina is seker nog daar by julle. Baie dankie ook aan haar.

Groete.

Erie & Ria

9. Op 26 Oktober 2010 skryf Johan (Vermeulen):

Ai , hoe beny ek julle dat julle na soveel jare die dag saam kon geniet en ons kindweesjare kon herleef.

Dankie vir die eerste sarsie foto's. Ek is bly om te lees hier kom meer. Sommige maats op die foto's is vir my vreemd, veral na soveel jare. Is dit moontlik om name of byskrifte by die fotos te sit? Ek wil glo die ander wat nie die reünie kon bywoon nie, sal dit ook baie waardeer.

Johan

Sodra ek geleentheid kry, doen ek dit. Ek noem ook dat ek vandag 'n klompie videofragmente wat tydens die funksie geneem is, ontvang het. Wanneer die geleentheid kom, redigeer ek dit en stuur dit aan.

Willie
10. Op 26 Oktober 2010 skryf Frans (Shawe):
 
Willie
 
Baie dankie aan jou en die ander "helpers" om van die WEERSIENS so 'n groot sukses te maak. Dit was keurig en die kwaliteit het ingepas by die tipe mense, mooi so!
 
Ons kon ongelukkig nie bly tot die einde nie, maar dit verhoed my seker nie om te sê dat ek graag weer na 'n soortgelyke of kleiner byeenkoms sou wou gaan.
 
Ek voel oor die groep soos die ou Oom gesê het: "Dis mos van ons kerk se mense".
 
Met jou openingsgesprek het jy die analogie geskilder dat elke mens met 'n kwassie 'n prentjie ('n lewensprentjie) skilder. Party mense trek 'n raam en grense rondom hom en slaag selde of ooit om daarbuite te beweeg. Dit was pragtig en gepas.
 
Dit laat my toe dadelik dink aan 'n ander metafoor: SPORE .
 
Ja, ons trap elke dag spore - honderde - nie alleenlik letterlik nie, maar in die lewe van mense. Hierdie spore kan negatief, positief, groot, nietig, vormend, rigtinggewend, vernietigend, opbeurend, opbouend, ens., ens. wees.
 
So kan elkeen van ons aangaan en soveel byvoeglike naamwoorde aanhaak soos dit jou pas. Die vraag wat elkeen van ons moet vra, is: Wat is die waarde van my spore, die indruk wat ek gelaat het?
 
As ons terugkyk op ons lewenspad, watter emosie en spore laat ons agter? In welke mate het ek wreedaardig die lewe van mense vertrap of opgehef, neutraal gestaan of geïnspireer? In watter mate het ek meegehelp om die beste in mense na vore te bring?
 
Dit is die tipiese spore wat mense verryk en na nuwe hoogtes sal laat klim. Alhoewel ons nog lank hieroor kan filosofeer, wil ek net sê dat die dame wat aan die einde gepraat het oor die swart skape, dit pragtig geïllustreer het, nie net in haar eie lewe nie, maar ook ten op sigte van ons verantwoordelikheid teenoor andere.
 
Dankie weereens vir 'n mooi byeenkoms.

Frans & Annette

Opmerking: Die boerekosspyskaart is deur Tina saamgestel - en het dit nie byval gevind nie!!! - Willie

1.

2.
3.
4.

5.
6.

7.
8.

9.

10.

11.

12.

13.

14.

15.


17.

18.

19.

20.

21.

22.

23.

24.

25.

26.

27.

28.

29.

30.

31.

32.

33.

34.
35.

36.

37.

38.

39.

40.

41.


42.


43.

44.
45.
46.
 47.

48.
49.
Videosnitte is by die volgende webadresse te vind:


http://www.youtube.com/watch?v=LeKmyJUt0co

http://www.youtube.com/watch?v=LwPSMycqktg

http://www.youtube.com/watch?v=_Ea2Vse5Deo


8. Algemeen


















 

Die Vaderland, Saterdag 7 Januarie 1961
Plattelandse matrikulante stof stedelikes uit

Die platteland het die stede vanjaar uitgestof wat betref die aantal matrikulante wat onderskeidings in al hulle vakke behaal het. Vyf leerlinge – vier seuns en ’n dogter –  het hierdie prestasie behaal en van hulle is vier plattelandse leerlinge.
Die opvalllendste kenmerk wat ’n ontleding van die uitslae aan die lig bring, is dat die grootste aantal onderskeidings behaal is in die vak Wiskunde – juis daardie vraestel waaroor die kandidate die meeste gekla het.
Die meeste onderskeidings is ook behaal in die wetenskaplike vakke soos Wiskunde, Natuur- en Skeikunde en Biologie. Voorverlede jaar (1959) het twaalf van Transvaal se 6 872 matrikulante onderskeidings in al hulle vakke behaal – verlede jaar (1960) is daar slegs vyf uit ’n totaal van 7 852. Weliswaar is die onderskeidingskerf met vyf persent na tagtig opgeskuif. Sewe van voorverlede jaar (1959) se twaalf leerlinge wat uitsonderlik presteer het, het in die stede Pretoria en Johannesburg skoolgegaan. Slegs een van vanjaar se se vyf is stedelik.
Die leerlinge wat so knap in die onlangse eksamen gevaar het, is Gert Pelser (Hoërskool Rodeon op Swartruggens) met sewe onderskeidings, Andries Pretorius (Hoërskool Rustenburg), Helena Jordaan (Hoërskool Nelspruit), Theofilus Jooste (Hoërskool Gimnasium op Potchefstroom) en Anton Pauw (Afrikaans Hoër Seunskool). Almal is Afrikaanssprekend.
Die agtienjarige Gert Pelser het vanoggend in ’n onderhoud op sy ouers se plaas gesê dat hy nie verwag het` om so goed te vaar nie: “Ek het maar net ’n paar onderskeidings verwag.”
Hierdie boerseun is van plan om ’n kursus in die bedryfsingenieurswese aan UP te volg. Hy lees baie en hou van tuinbou. Sy vader boer met beeste en mielies.
Anton Pauw hou tans vakansie by die see saam met sy ouers ds. en mev. J.C. Pauw van Meyerspark, Pretoria. Helena Jordaan van Nelspruit kuier tans op Vereeniging en Andries Pretorius is op sy vader se bosveldplaas.
Die direkteur van onderwys, dr. A.H. du P. van Wyk, het verklaar dat die kandidate ’n goeie standaard in hulle antwoordskrifte gehandhaaf het.
Almal wat gedruip het, kan in Maart hereksamen doen – sommige hoef net die vakke oor te skryf waarin hulle gedruip het.
Hoewel geen amptelike statistiek nog beskikbaar is nie, is die aanduiding dat sowat 78 persent van die kandidate geslaag het. Dit is ’n baie bevredigende persentasie. Van hulle het 506 onderskeidings in een vak behaal, 156 in twee vakke, 53 in drie vakke, 28 in vier vakke (teenoor 40 in 1959), 10 in vyf vakke (teenoor 16 in 1959), 4 in ses vakke (teenoor 10 in 1959) en 1 in sewe vakke (teenoor 2 in 1959).
Die onderskeiding in die betrokke vakke is soos volg:
Wiskunde – 370
Natuur- en Skeikunde – 132
Biologie – 111
Duits – 93
Latyn – 71
Geskiedenis – 70
Engels Laer – 32
Hebreeus – 19
Afrikaans Hoër – 15
Engels Hoër – 11
Afrikaans Laer – 8
Frans – 7
Aardrykskunde – 7
Matrikulante wat vanjaar universiteit toe gaan, moes sorg dat hulle ’n gemiddeld van 45% in die eksamen behaal – voorheen was dit slegs 40%. Hierdie hoër vereiste volg op ’n besluit van die Gesamentlike Matrikulasieraad en die doel daarmee is om die hoë persentasie druipelinge onder eerstejaars aan universiteite die hoof te bied.
Christiaan Verwoerd, seun van die Eerste Minister, wat tans in Kaapstad vakansie hou, het ’n eersteklas behaal.
Enkele stukkies kommentaar (Willie)
  • Die onderskeidingstatistiek is nie volledig nie. Onderskeidings in Kuns is byvoorbeeld nie verreken nie – en ons weet Tina het ’n onderskeiding in Kuns behaal.
  • Sou ’n mens die statisitiek van ons uitslae vergelyk met dié van die afgelope klompie dekades, is daar nogal veel stof tot nadenke
  • Een van die vyf leerling wat in al sy vakke onderskeidings behaal het (die enigste stedeling), Anton Pauw, se paadjie het in 1981 met myne gekruis. Hy was professor in Klassieke Tale aan RAU. Ons het vir baie jare nou saam gewerk. In die vyf jaar wat ek redakteur van RAU se meningsblad (Aambeeld) was, was hy ook ’n redaksielid. Sy oudste dogter, Rykie, het voorgraadse onderrig by my gekry. In haar honneursjaar het ek ook vir haar die kursus Sintakis aangebied. Anton se vrou, Mariaan, het ’n magisterverhandeling oor die ouderdommetafoor onder my studieleiding voltooi. Inderdaad ’n klein wêreld!

9. Na die weersiens ...





























































Foto's van die boekbekendstellingsfunksie is by die volgende skakel beskikbaar:

Eie foto's

Ek herinner my dat toe ons op skool was, was my oorlede broer (Theuns) en my swaer (Pierre, seun van mnr. J.M. Cilliers, eerste hoof van Laerskool Hugenoot) fotografie-entoesiaste. Kiewiet, Josef en Maurice sal miskien onthou dat ons by meer as een geleentheid my broer se fotografie-apparate gebruik het om foto's te ontwikkel. Ons kon egter nie kleurfoto's ontwikkel soos my broer en my swaer nie. Dit was vir ons nog te ingewikkeld.

My eerste Engelse toespraak wat ek in St. 7 by Van Johnson moes maak, het oor fotografie gehandel. My broer het my daarmee gehelp. Ek kan tot vandag toe nog dele van die besondere toespraak onthou.

As my herinnering reg is, het Kiewiet by daardie geleentheid oor inseketende plante gepraat.

Nietemin, die fotografie-belangstelling van my broer en swaer het op 'n manier so sydelings by my neerslag gevind. Oor die jare het ek ook toe maar 'n klompie foto's geneem. Ek het toe besluit om van die meer onlangse jare se foto's op 'n blog te plaas. Dit is foto's waarvan ek hou. Mettertyd sal ek seker nog meer foto's daar publiseer.

Diegene wat belangstel om van die foto's te sien, kan dit by die volgende blogadres besigtig:


Ek sal dit periodiek opdateer. Die laaste opdatering was op Mei 2012.

Willie


Ons omgewing gedurende die middel-vyftigs tot sestigs was Crosby, Mayfair-Wes, Mayfair, Langlaagte, Langlaagte-Noord, Aucklandpark en Homesteadpark. Alhoewel die Hoërskool D.F. Malan in Crosby geleë was, was leerlinge van dié skool hoofsaaklik uit die genoemde voorstede afkomstig. Die omliggende laerskole was Hugenoot, Crosby, Jubileum, Brixton, Langlaagte en Goedehoop. Die naaste ander hoërskool was Rossmore (die latere Vorentoe). Hoërskool Die Goudveld het so teen 1957 geopen, veral gerig op leerlinge van die Abraham Kriel-kinderhuis. Tot in daardie stadium het die genoemde leerlinge hulle onderrig aan D.F. Malan ontvang. Inwoners van die New Canada-kinderhuis het ook eers aan D.F. Malan hulle onderrig ontvang voordat hulle na Goudveld verskuif is.

Van hierdie hoër- en laerskole bestaan nie meer vandag in hulle oorspronklike vorm en aard nie – soos byvoorbeeld D.F. Malan.

Die skoollandskap binne hierdie ruimtes het ’n totale metamorfose ondergaan, ’n radikale verandering geslyp deur tyd – want nuwe tye het nuwe behoeftes gebring. Maar tyd en ruimte is verbonde aan ’n groter konteks wat deur ’n verskeidenheid kulturele, politieke, godsdienstige en ander veranderlikes bepaal word.

In hierdie afdeling wil ons probeer om ’n mosaïek saam te stel van die veranderlikes wat ons tyd en omgewing vir ons uniek gemaak het, die “dinge” wat ons as tyd-ruimtegenote só gebind het dat ons inderdaad van “ons wêreld en tyd” kan praat: die prentjie van ons tyd! Dit kan ’n relaas wees oor spesifieke plekke (byvoorbeeld die Roxy, die swembad, die park agter die swembad), spesifieke persone (byvoorbeeld predikante, onderwysers, kultuurleiers, en sommer net bure), spesifieke gebeurtenisse (byvoorbeeld kermisse, sportgebeurtenisse, tragedies) – en vanuit ’n omvattender perspektief ook die musiek van ons tyd, radiostasies en radioprogramme van ons tyd, die waardestelsels van ons tyd, die tendense van ons tyd (soos byvoorbeeld die eendstertverskynsel), of wat ook al.

Enige oud-leerling van D.F. Malan (of persone wat na aan hulle is/was) wat gedurende die vyftiger- en sestigerjare deel was van hierdie “wêreld”, is welkom om ’n bydrae te skryf om uit sy/haar perspektief die mosaïek in te vul. Bydraes kan gestuur word na bothawil@gmail.com.

Bydraes tot die prentjie

Ora skryf:

Ons het destyds in Parkhurst gebly. Daar was nog volop oop stukke grond met lang grasse en kosmosblomme en ons het selfs Sondae gestap na Mayfair waar my pa se suster gewoon het. Laatmiddag het ons met twee busse teruggery – eers van Mayfair tot in die stad en van die stad af weer tot in Parkhurst. My ouers was onderwysers en ons het geen motorkar gehad nie. Ek het baie vakansies by my niggie in Mayfair gekuier en ek self onthou nog die rooi gepoleerde stoepe en die agterplase en voortuine met rose in ringe baie goed. My pa het heelwat later by die Indiër-Onderwyskollege klas gegee wat vroeër ’n Afrikaanse laerskool was. Ek kan nie meer die naam van die ou skool onthou nie maar my ma het ook daar skoolgehou voor my tyd. Rudolph sou natuurlik nog meer kon vertel het!





'n Paar onlangse foto's van plekke van ons jeugtyd











Uittreksels